Nuus 18:00
BULLETIN 25 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Afrika-leiers steun die dialoog oor migrasie-uitdagings
# Politieke partye en onafhanklike kandidate het ‘n laaste kans vir benoemings voor die OVK-sperdatum
# En, rugby: Morné Steyn glo die Bokke se nederlaag in die eerste toets was ‘n goeie ding
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika bly verbind tot die beginsels van Pan-Afrikanisme en verwerp xenofobie en diskriminasie teen buitelandse burgers. Ramaphosa het vrae in die Nasionale Vergadering beantwoord en sê die regering voer gesprek met leiers van verskeie Afrika-lande oor migrasie-uitdagings, wat deur verskeie regerings begryp en ondersteun word. Hy voeg by migrasie moet bestuur word deur die oppergesag van die reg, strenger grensbeheer, optrede teen korrupsie en verbeterde wettige kanale vir migrasie:
# Intussen sê president Cyril Ramaphosa die polisie ondersoek diegene wat agter die gewelddadige optrede is teen buitelandse burgers in Suid-Afrika. In sy mondelinge antwoord op vrae in die Parlement het Ramaphosa gesê verskeie mense is in hegtenis geneem, en meer arrestasies en aanklagte kan volg namate die polisie bewyse insamel. Hy het verklaar die regering sal ook optree teen werkgewers wat ongedokumenteerde migrante aanstel en het werkgewers aangespoor om te verseker dat buitelandse burgers behoorlik gedokumenteer is:
# Die Verkiesingskommissie herinner politieke partye en onafhanklike kandidate die sperdatum om benoemings in te dien en te voltooi vir vanjaar se plaaslike regeringsverkiesing is Vrydag-middag om 5-uur. Die OVK sê die sperdatum kan nie verleng of verander word nie, en geen voorleggings sal daarna aanvaar word nie. Partye en kandidate is versoek om besonderhede vroegtydig reg te kry om te verhoed dat hulle die sperdatum misloop. Die aanlyn kandidaatbenoemingstelsel sal terselfdertyd sluit vir die verkiesing op 4 November.
# Die verhoor van ‘n Libiese man wat daarvan beskuldig word dat hy gehelp het om die bom te bou wat in die Lockerbie-bomaanval gebruik is, is uitgestel net ‘n dae voor dit sou begin het. ‘n Amerikaanse regter sê nuwe bewyse beteken die verdediging het meer tyd nodig om voor te berei. Abu Agila Mas’ud het onskuldig gepleit op aanklagte wat verband hou met die bomaanval op Pan Am-vlug 103 oor Skotland in 1988, waarin al 259 mense aan boord en 11 op die grond dood is. Geen nuwe verhoordatum is nog vasgestel nie, maar die voorverhoor is vir Dinsdag geskeduleer.
# Rugby: Die voormalige Springbok-losskakel Morné Steyn sê Suid-Afrika se nederlaag teen die All Blacks in die eerste toets was nie noodwendig sleg nie. Dit was hulle eerste nederlaag in 13 maande nadat hulle verlede jaar laas in Auckland teen Nieu-Seeland verloor het. Steyn sê die reeks is nog besig om te ontvou en Suid-Afrika moes terugkom aarde toe. Hy glo ‘n span leer meer uit ‘n nederlaag as uit ‘n oorwinning, hoewel Bok-ondersteuners nie sal saamstem nie omdat hulle wil hê die span moet altyd wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-96-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-639-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-619-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 90-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….