Nuus 17:00
BULLETIN 25 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GEMS-hoof Stan Moloabi is geskors
# Vusimuzi “Cat” Matlala is steeds in die duister terwyl die Kommissie voortgaan
# En, tennis: Roger Federer keer terug na die Arthur Ashe-stadion vir ‘n besondere vaarwel
# Die Mediese Skema vir Staatsamptenare, GEMS, het sy hoofbeampte, Stan Moloabi, op voorsorgskorsing geplaas hangende ‘n interne administratiewe proses. Die voorsitter van die raad, Nomzamo Tutu, sê die skorsing is ‘n tussentydse maatreël om die proses onafhanklik en billik te laat voortgaan. Sy beklemtoon dit moet nie geïnterpreteer word as ‘n bevinding van wangedrag of oortreding nie. Die verwikkeling kom te midde van volgehoue druk oor GEMS se bydraeverhogings. Die skema dek meer as 2,4-miljoen staatsamptenare en hul afhanklikes. Moloabi het sy skorsing bevestig, maar gesê hy kan nie verder kommentaar lewer nie.
# Die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala het voor die Madlanga-kommissie getuig hy is in die duister gelaat en het nie genoeg geleentheid gehad om sy regspan se betoë ten volle te oorweeg nie. Matlala het voor die kommissie verskyn nadat hy voorheen geweier het om vrae te beantwoord oor die SAPD Medicare24-tender van 228-miljoen-rand. Die voorsitter, Mbuyiseli Madlanga, het advokaat Fatima Missi se versoek om uitstel verwerp en gelas die verrigtinge sal voortgaan:
# Twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat beamptes van die Taktiese Reaksie-eenheid van die Johannesburgse Metropolisie gister onwettige vuurwapens in Lufhereng, Gauteng, onderskep het. Woordvoerder Xolani Fihla sê beamptes het reageer op inligting oor ‘n vuurwapentransaksie wat met ‘n voertuig verbind was en die voertuig afgetrek. Die polisie het ‘n geweer met ‘n magasyn, ‘n pistool met ‘n magasyn asook lewendige ammunisie vir die vuurwapens gevind. Die verdagtes is in hegtenis geneem en sal binnekort in die hof verskyn:
# Wydverspreide vloede in Suid-China vererger te midde van swaar reën weens Tifoon Narra, met huise en winkels wat oorstroom is. Chinese staatstelevisie berig meer as 54-duisend mense in Guangxi is ontruim, met minstens nog 15-duisend mense in die stad Chongzuo, nadat riviervlakke die vorige rekord van 2008 oorskry het. Owerhede het ondernemings en toeristebedrywighede gelas om hul deure te sluit en inwoners gewaarsku om nie terug te keer na gebiede met ‘n hoë oorstromingsrisiko nie. Nog stortreën word môre in dele van Suid-China verwag.
# Tennis: Die Switser Roger Federer sien uit na ‘n spesiale terugkeer na die Arthur Ashe-stadion in New York vroeg môreoggend – sy eerste verskyning sedert sy laaste Amerikaanse Ope in 2019. Die 20-malige Grand Slam-kampioen sal ‘n vertoon-dubbelswedstryd speel saam met sy voormalige teenstanders, Andy Roddick, Andre Agassi en John McEnroe, tydens die Amerikaanse Ope-ondersteunersweek. Federer sê die geleentheid maak dit vir hom moontlik om ondersteuners te bedank en sy herinneringe aan die toernooi te vier. Hierdie vier het tussen hulle twaalf mans-enkelspeltitels in die toernooi gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-50-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-633-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 90-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….