Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA bestempel die AARTO-stelsel as gebrekkig en onprakties
# T-L-U S-A beskuldig die ANC dat hy stemme koop met die minimumloon
# En, krieket: Die uitkloprondes van die S-A-20 begin vandag
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê kommer neem toe oor die bekendstelling van die Administratiewe Beregting van Padverkeersoortredings-stelsel, wat potensiële uitdagings vir munisipaliteite aandui. ‘n Verslag wat op ‘n raadsvergadering in Swellendam in die Wes-Kaap aangebied is, dui op potensiële inkomsteverliese van tot sewe-miljoen-rand weens AARTO. Stefanie Fick van OUTA voer aan die finansiële druk strek tot verkeersdienste, met geskatte verliese wat wissel van 3,7-miljoen-rand tot meer as vyf-miljoen-rand, wat vrese oor diensonderbrekings en personeelvermindering laat ontstaan:
# Die landbou-organisasie, TLU SA, beskuldig die ANC dat hy probeer stemme koop deur die minimum loon te verhoog eerder as om op werkskepping te fokus. Die regering het die nasionale minimum loon van die eerste van volgende maand met 8,5-persent tot 27-rand-58-sent per uur verhoog. Die besluit is op aanbeveling van die Nasionale Minimumloonkommissie geneem. TLU SA se woordvoerder, Bennie van Zyl, sê die verhoging sal tot meer afleggings lei:
# Die Nasionale Hawe-owerheid het F-F-S Tank Terminal aangestel om die terminaal vir grootmaat-vloeistof wat in bunkerbrandstof spesialiseer, op ‘n beboude perseel by die Richardsbaaise hawe in KwaZulu-Natal te ontwikkel en te bedryf. Die maatskappy hanteer produkte soos swaar stook-olie, vloeibare petroleumgas, vloeibare aardgas, koolteerbrandstof en diesel-olie. Die konsessie van 25 jaar beteken dat FFS Tank Terminal die terminaal sal oorneem wat Engen voorheen bedryf het.
# Krieket: Die uitkloprondes van die SA20 begin vandag. Die boonste twee spanne op die punteleer, die verdedigende kampioen, Sunrisers Eastern Cape, en Durban Super Giants, speel vanaand in Kaapstad in die eerste kwalifiseerder. Die wenner dring regstreeks deur na Saterdag se eindstryd, ook op Nuweland. Die verloorder kom in Donderdag se tweede kwalifiseerder te staan teen die wenner van môre se elimineerder. Dit word op die Wanderers in Johannesburg gespeel tussen Paarl Royals en Joburg Super Kings, wat onderskeidelik derde en vierde geëindig het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-963-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-25-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-24-sent per vat.
# Ten slotte: Die Randburg Harriers-atletiekklub maak gereed vir sy jaarlikse Valentynsdag-pretdraf wat volgende Vrydag plaasvind. Die nagwedloop van tien kilometer loop deur Randburg se mooiste gebiede en deelnemers moet 15 jaar of ouer wees. Die klub se woordvoerder, Buwi Moeketsi, sê deelnemers word aangemoedig om hulle bekoorlikste uitrustings aan te trek en te kyk wie Kupido se oog vang. Sy sê die geleentheid wil die gees van liefde en gemeensaamheid vier.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….