Nuus 14:00
BULLETIN 25 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sitrusboere verlaag 2026 se uitvoer-vooruitskatting
# Transnet beplan om ontslae te raak van die ikoniese Carlton-sentrum en 14 sake-eiendomme
# En rugby: Die Leeus is nog nie seisoengereed nie maar gretig om hulleself vanaand teen die All Blacks te toets
# Die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika het sy lemoenuitvoer-voorspellings vir 2026 verlaag te midde van erge weer, geopolitieke spanning, markontwrigtings en logistieke uitdagings. Die uitvoerberaming vir Valencia-lemoene is met agt persent verlaag tot 58-miljoen kartonne, terwyl die vooruitskatting vir Navel-lemoene met 19-persent verlaag is tot 24,3-miljoen kartonne. Algehele sitrusuitvoere sal na verwagting 197,9-miljoen kartonne van 15-kilogram elk beloop. Die vereniging sê oorstromings het boorde beskadig, terwyl konflik in die Midde-Ooste verskepingsroetes en markte ontwrig het, wat koste- en finansiële druk op produsente verhoog het.
# Die Vereniging van Staatsamptenare verwelkom ‘n nuwe raamwerk en ooreenkoms van verstandhouding tussen Suid-Afrika en Zimbabwe om samewerking in Justisie en Korrektiewe Dienste te versterk. Gevangenisbevolkingsyfers dui aan daar is meer as 170-duisend gevangenes in Suid-Afrikaanse tronke, insluitend ‘n beduidende aantal buitelandse burgers. Woordvoerder Claude Naicker sê enige projek moet oorweeg word om oorbevolking te verminder, druk op korrektiewe sentrums te verlig en oortreder-rehabilitasie te bevorder:
# Airlink gaan van 16 November regstreekse vlugte tussen Gqeberha in die Oos-Kaap en die Kruger-Mpumalanga Internasionale Lughawe in Mbombela instel. Die lugredery sal drie vlugte per week bedryf op ‘n 44-sitplek Embraer ERJ-140-vliegtuig – Maandae, Woensdae en Vrydae. Airlink sê die roete sal reistyd aansienlik verminder vir vakansiereisigers deur verbindings deur Gauteng uit te skakel. Die redery poog ook om sakebande tussen die Oos-Kaap en Mpumalanga se ekonomiese en nywerheidspilpunte te versterk.
# Transnet het aangekondig hy wil ontslae raak van 15 sake-eiendomme wat nie meer as kernbates beskou word nie. Dit sluit in die ikoniese Carlton-sentrum in Johannesburg, gholfbane en winkelsentrums. Transnet het die Carlton-sentrum in 1999 by Anglo American gekoop vir 33-miljoen-rand. Die gebou was jare die hoogste in Suid-Afrika, met sy 50 verdiepings wat 223-meter hoog strek, maar die Leonardo-gebou in Sandton is nou die hoogste teen 234-meter
# Rugby: Die Leeus se hoofafrigter, Ivan van Rooyen, erken hulle is nie ten volle gereed vir die nuwe Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen nie, maar gretig om hulle vanaand in Johannesburg teen Nieu-Seeland te toets. Die All Blacks is onoorwonne op hulle Suid-Afrikaanse toer nadat hulle reeds met die Stormers, die Haaie en die Bulle afgereken en die Springbokke in die eerste toets geklop het. Van Rooyen sê hulle kort nog kondisionering:
# En die finansiële aaanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-400-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-631-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….