Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 25 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hulle is vasbeslote om sake reg te stel na die nederlaag van 33-16 teen die All Blacks in die eerste toets in Johannesburg. Handrè Pollard keer terug op losskakel vir Saterdag se tweede toets in Kaapstad, en Cobus Reinach en Ethan Hooker is ingesluit. Siya Kolisi sal speel as hy fiks is. Erasmus sê hulle moet geleenthede in punte omskep om die gewenste uitslag te kry:
Min mense verwag intussen die Leeus sal vanaand in Johannesburg die All Blacks se onoorwonne status op hul Suid-Afrikaanse toer beëindig. Nieu-Seeland lyk onheilspellend ná oorwinnings oor die Stormers, die Bulle, die Haaie en die Springbokke in hul eerste vier toerwedstryde. Die Leeus se afrigter, Ivan van Rooyen, het sy sterkste moontlike span aangewys, versterk deur die insluiting van Quan Horn en Boan Venter, wat van die nasionale groep vrygestel is vir die ontmoeting. Die wedstryd op Ellispark skop vanaand sewe-uur af.
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het die plaaslike beheerliggaam SAFA gekritiseer oor die vertraging met Pitso Mosimane se aanstelling as nuwe hoofafrigter van Bafana Bafana. SAFA se nasionale uitvoerende komitee het die aanstelling vroeër die maand goedgekeur, maar geen amptelike aankondiging is nog gedoen nie weens mislukking in kontrak-onderhandelings. Bafana se kwalifiseringsveldtog vir volgende jaar se Afrikabekertoernooi begin volgende maand. McKenzie wag op SAFA se verslag:
# Krieket: Suid-Afrika is sonder die veelsydige Jason Smith vir die driehoekige T20-reeks teen Namibië en Zimbabwe in Windhoek. Die 31-jarige het ‘n spier beseer. Björn Fortuin sal die span aanvoer in die driehoekreeks, wat van Vrydag tot volgende Sondag plaasvind. Smith sal verdere toetse ondergaan om sy beskikbaarheid te bepaal vir die eendagreeks teen Namibië, wat op 9 September begin, Suid-Afrika het nie ‘n plaasvervanger aangewys nie.
En laastens, nog krieket: Engeland se snelbouler, Brydon Carse, is uitgelaat vir die tweede toets teen Pakistan wat Donderdag op Lord’s begin ná ‘n voorval buite ʼn nagklub in Derby. ʼn Video word versprei waar hy Saterdagaand in boeie deur die polisie weggelei word. Die Engelse en Walliese Krieketraad het die voorval vir ondersoek na die Krieketreguleerder verwys. Carse, wat deur Sonny Barker vervang word, is die derde Engelse speler die afgelope 12 maande wat ʼn toets weens ʼn dissipline-kwessie misloop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….