Nuus 12:00
BULLETIN 25 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die rand versterk die eerste keer sedert Februarie tot onder 16-rand teenoor die dollar
# SASSA-begunstigdes se sperdatum nader om oor te skakel na die Posbank se swartkaarte
# En rugby: Erasmus sê hulle gaan sake regmaak in die tweede toets teen die All Blacks
# Die rand het vanoggend die eerste keer in byna ses maande tot die belangrike vlak van onder 16-rand teenoor die Amerikaanse dollar versterk. Ontleders skryf dit toe aan ‘n swakker Amerikaanse dollar, stygende goud- en platinumpryse, asook sterk buitelandse belangstelling in Suid-Afrikaanse staatseffekte. Volgens Investec is sowat 63,7-miljard-rand vanjaar gebruik vir die plaaslike skuldmark, wat beleggersvertroue verder versterk het. Die bank voorspel die rand sal gedurende die laaste kwartaal van die jaar teen ‘n gemiddeld van 15-rand-90-sent teenoor die dollar verhandel.
# Forum for South Africa vra president Cyril Ramaphosa om die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, te verwyder omdat hy nie daarin slaag om die toenemende misdaad- en geweldsvlakke te verlaag nie. Hy het onlangs verklaar dat misdaad-meesterbreine vanuit magsposisies werk en hulself kan beskerm. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, vra waarom die beplanners van georganiseerde misdaad nie aangekeer word as die regering geloofwaardige inligting het wat hulle identifiseer nie:
# Die Posbank het bykans 80-duisend begunstigdes van maatskaplike toelaes gevra om betyds oor te skakel van SASSA se gouekaarte na die Posbank se swartkaarte. Die sperdatum is Maandag. Meer as 1,8-miljoen begunstigdes het reeds oorgeskakel sedert die proses verlede jaar begin het. Woordvoerder Bongani Diako sê bykomende bedryfs-maatreëls is ingestel by kaartvervangingspunte om die verwagte toename in die laaste dae voor die sperdatum te hanteer:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse regering het Sirië amptelik verwyder van sy lys van lande wat terrorisme steun. Die land was sedert 1979 op die lys toe Washington oudpresident Hafez al-Assad se regering beskuldig het dat hulle militante groepe ondersteun. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê die besluit erken die positiewe stappe wat die Siriese regering onder president Ahmed al-Sharaa gedoen het om volkome afstand te doen van internasionale terreurbedrywighede. Hy sê dit sal nuwe geleenthede skep vir Sirië se ekonomiese herlewing en vooruitgang ontsluit.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hulle is vasbeslote om sake reg te stel na die nederlaag van 33-16 teen die All Blacks in die eerste toets in Johannesburg. Handrè Pollard keer terug op losskakel vir Saterdag se tweede toets in Kaapstad, en Cobus Reinach en Ethan Hooker is ingesluit. Siya Kolisi sal speel as hy fiks is. Erasmus sê hulle moet geleenthede in punte omskep om die gewenste uitslag te kry:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-153-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-636-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….