Nuus 11:00
BULLETIN 25 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa gaan vrae in die Parlement beantwoord oor migrasie, die waterkrisis en onwettige mynbedrywighede
# Die VF Plus sê munisipaliteite moet die ekonomie aandryf, nie kniehalter nie
# En rugby: Rassie Erasmus sê die Bokke gaan sake regmaak in die tweede toets teen die All Blacks
# President Cyril Ramaphosa gaan vanmiddag vrae beantwoord in die Nasionale Vergadering, onder meer oor die regering se pogings om te keer dat migrasie-verwante kwessies en optrede Suid-Afrika se beeld en stand skaad. Hy sal die jongste inligting verskaf oor ingryping ingevolge die Nasionale Waterkrisis-aksieplan, pogings teen onwettige mynbedrywighede en hoe om munisipaliteite se vermoë te herstel. Die Presidensie sê Ramaphosa sal ook inligting verskaf oor die land se bydrae om seker te maak Madagaskar keer terug na ‘n grondwetlike en demokratiese orde.
# Die Vryheidsfront Plus sê Suid-Afrika kan nie sy handelsmarkte, beleggings en ekonomiese groei volhoubaar herstel as plaaslike regering nie eers herstel word nie. Die party sê wanbestuur, wateronderbrekings, vervalle paaie en swak vullis-bestuur is van die kwessies wat munisipaliteite raak. Woordvoerder Jaco Mulder sê hulle moet terugkeer na die basiese beginsels van bevoegde bestuur, finansiële dissipline, doeltreffende inkomste-invordering, gereelde onderhoud aan infrastruktuur en gevolge vir wanbestuur en laksheid:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê hy sal korrupsie, bedrog en misdaad ondersoek wat noodsaaklike openbare infrastruktuur en dienslewering ondermyn. Sewe werknemers van die Emfuleni-munisipaliteit word beskuldig dat hulle geld geëis het om dienste te herkoppel. Hulle het volgens berigte 150-duisend-rand gemaak uit bedrog, diefstal, geldwassery en peuter met noodsaaklike infrastruktuur. Woordvoerder Lumka Mahanjana sê die werknemers het die munisipaliteit bedrieg deur onwettig en teen vergoeding kragtoevoer te herstel na sake-ondernemings en individue met agterstallige rekeninge:
Nuus uit die buiteland:
# Iran se minister van Ekonomie, Ali Madanizadeh, sê Teheran is ten volle voorbereid om Amerikaanse sanksies te hanteer. Washington het nuwe sanksies ingestel wat fokus op digitale bates, tegnologie, goud, lugvaart en verskeping. Amerika se minister van Finansies, Scott Bessent, dreig ook om streng sanksies in te stel teen enige land of instelling wat ekonomiese bande met Teheran behou. Madanizadeh sê hulle het ʼn tweejaar-plan teen sanksies en beskuldig Amerika van ekonomiese terrorisme teen Iran.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hulle is vasbeslote om sake reg te stel na die nederlaag van 33-16 teen die All Blacks in die eerste toets in Johannesburg. Handrè Pollard keer terug op losskakel vir Saterdag se tweede toets in Kaapstad, en Cobus Reinach en Ethan Hooker is ingesluit. Siya Kolisi sal speel as hy fiks is. Erasmus sê hulle moet geleenthede in punte omskep om die gewenste uitslag te kry:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-786-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-639-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….