Nuus 09:00
BULLETIN 25 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vryheidsfront Plus sê munisipaliteite moet die ekonomie aandryf
# Suid-Afrika se infrastruktuurontwikkeling van 1,9-duisend-miljard-rand skep geleenthede
# En krieket: Jason Smith gaan nie saam op die Proteas se Namibiese toer nie
# Die Vryheidsfront Plus sê Suid-Afrika kan nie sy handelsmarkte, beleggings en ekonomiese groei volhoubaar herstel as die land se plaaslike regering nie eers herstel word nie. Die party sê munisipale wanbestuur, wateronderbrekings, vervalle paaie en swak vullis-bestuur is van die kwessies wat plaaslike regering raak. Jaco Mulder van die VF Plus sê munisipaliteite moet terugkeer na die basiese beginsels van bevoegde bestuur, finansiële dissipline, doeltreffende inkomste-invordering, gereelde onderhoud aan infrastruktuur en gevolge vir wanbestuur en laksheid:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê Suid-Afrika versnel die lewering van infrastruktuur met 81 strategies geïntegreerde projekte wat uit 263 individuele projekte bestaan. Die projekte se gesamentlike waarde is sowat 1,9-duisend-miljard-rand. Die minister sê die afgelope 18 maande is 37 projekte van ongeveer 69-miljard-rand voltooi, terwyl nog 82 projekte, met ‘n geraamde waarde van 502,7-miljard-rand tans in aanbou is. Macpherson sê die projekte wys die regering skep goeie geleenthede vir infrastruktuur-belegging, -ontwikkeling en -vennootskappe.
# City Power sê hy maak goeie vordering om elektrisiteit te herstel na gebiede wat deur die brand by die Fordsburg-substasie geraak word. ʼn Ondergrondse brand in tonnels met hoë-spanning-kragkabels het veroorsaak dat die substasie Sondagaand gesluit is. Die verlies aan krag het ook watervoorsiening beïnvloed. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê elektrisiteit na die meeste substasies wat geraak word, is gister herstel. Hy sê die Breë-, Braamfontein- en John Ware-substasies is nog nie gekoppel nie:
# Rwanda se president, Paul Kagame, verwerp die bewering dat sy land verantwoordelik is vir die huidige konflik in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo, en sê dis faksies in die DRK. Sy opmerkings volg ná herhaalde pogings, insluitend die Amerikaanse vredesooreenkoms, om die konflik te beëindig. Kagame sê sy land sal by die konflik betrokke bly solank die bedreiging van die Demokratiese Magte vir die Bevryding van Rwanda bestaan:
# Krieket: Suid-Afrika is sonder die veelsydige Jason Smith vir die T20-driehoekreeks teen Zimbabwe en Namibië in Windhoek, nadat die 31-jarige ‘n bytrekspier beseer het. Bjorn Fortuin sal die span aanvoer vir die driehoekreeks, wat van 28 Augustus tot 6 September plaasvind. Smith sal verdere toetse ondergaan om sy beskikbaarheid te bepaal vir die eendagreeks teen Namibië, wat op 9 September begin, Suid-Afrika het nie ‘n plaasvervanger in sy plek aangewys nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-250-dollar. Die prys van goud is vier -duisend-634-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….