Nuus 08:00
BULLETIN 25 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Appèlhof sal vandag die regering se saak teen die maatskaplike hulptoelaag aanhoor
# Die EFF het ‘n parlementêre etiekklag teen Mark Burke ingedien
# En swem: Swem SA se president en uitvoerende hoof is voorlopig geskors
# Die Appèlhof in Bloemfontein hoor vandag die regering se appèl aan teen die Hooggeregshof in Pretoria se beslissing oor die maatskaplike noodverligtingstoelaag van 370-rand. Die Hooggeregshof het bevind talle van hierdie toelaag se regulasies is ongrondwetlik en ongeldig, insluitend dat aansoeke slegs aanlyn ingedien word. Burgerregtegroepe sê hierdie vereiste sluit sowat 14-persent kwalifiserende begunstigdes uit wat nie internet-toegang het nie. Die Nasionale Tesourie sê die toelaag is ingestel as tydelike verligtingsmaatreël tydens COVID-19, en waarsku dit kan byna 100-miljard-rand kos as dit uitgebrei word.
# Die EFF het ‘n formele klag teen Mark Burke van die DA by die Parlement se Gesamentlike Komitee oor Etiek en Ledebelange ingedien. Dit volg na bewerings dat Kastelo, die maatskappy wat hy gestig het, deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank ondersoek is vir oënskynlike valutabeheer-oortredings in transaksies ter waarde van vier-miljard-rand. Die DA het Burke verlede week verwyder as die party se verteenwoordiger op die parlement se Finansieskomitees. Omphile Maotwe van die EFF sê Burke was nie deursigtig in die Parlement oor die ondersoek deur die Reserwebank nie:
# Die Gautengse Departement van Onderwys sê hy gee aandag aan infrastruktuurkwessies by die Reiger Park Secondary School in Boksburg. Daar is kommer oor die toestand en funksionaliteit van ablusiegeriewe by die skool, asook toegang tot drinkwater vir leerders. Die departement se woordvoerder, Onwabile Lubhelwana, sê ‘n span inspekteurs sal die ablusiegeriewe en waterinfrastruktuur by die skool assesseer. Hy sê die uitslag daarvan sal die nodige ingrypings bepaal:
# Amerika se minister van Finansies, Scott Bessent, het ‘Operasie Ekonomiese Uitgeworpene’ ingestel teen Iran se finansiële vennote reg oor die wêreld. Dit volg nadat Amerika ‘n reeks nuwe sanksies teen Teheran ingestel het in sektore soos digitale bates, tegnologie en verskeping. Volgens die Tesourie-departement is dit die sektore waarop Iran sy ekonomie baseer. Bessent dreig om uiters streng sanksies in te stel teen enige land of instelling wat ekonomiese bande met Teheran behou:
# Swem: Die internasionale liggaam, die Eenheid vir Integriteit in Watersport, het Swem Suid-Afrika se president, Alan Fritz, en uitvoerende hoof, Shaun Adriaanse, voorlopig geskors oor moontlike oortreding van Wêreld-watersport se integriteitskode. Die bewerings sluit in misbruik van mag en die verskaffing van vals inligting en dokumente. Die eenheid sê Fritz en Adriaanse mag tydens hulle voorlopige skorsing geen amp beklee by Swem Suid-Afrika, Afrika-watersport, Wêreld-watersport of enige ander erkende liggaam nie. Hulle mag nie deelneem aan enige swem-verwante aktiwiteite nie, en word ook verbied om dit by te woon.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-722-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-635-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….