Nuus 07:00
BULLETIN 25 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola verdedig die vertragings in apartheidsvervolgings
# MISA waarsku die langer rybewystydperk kan padveiligheid bedreig
# En die Kanadese premier belowe om terug te slaan teen die nuwe Amerikaanse tariewe
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het sy besluit verdedig om nie ‘n ondersoekkommissie na beweerde inmengery by die vervolging van apartheidsmisdade te ondersteun nie. Hy het gister die eerste keer vir kruisondervraging teruggekeer na die Waarheids-en-Versoeningskommissie se Sake-ondersoek. Lamola, voormalige minister van Justisie, sê finansiële beperkings by die departement en die Nasionale Vervolgingsgesag het WVK-sake geraak. Hy sê mededingende eise dwing die departement om moeilike keuses te maak wanneer families ʼn ondersoek vra na die hantering van sake.
# Die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, ontken die KwaZulu-Natalse Valke-beampte, Deenadayalan Govender, se bewerings teen hom by die Madlanga-kommissie. Govender het verlede week getuig Mchunu het hom probeer oorreed om talle skietvoorvalle deur die polisie, voor die deur van die provinsie se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, te lê. Mchunu se woordvoerder, Sithembiso Mshengu, het aan Newzroom Afrika gesê die bewering is sonder enige bewyse gemaak en die minister verwerp dit met die minagting wat dit verdien:
# President Cyril Ramaphosa sal na verwagting vandag die vyfde simposium oor volhoubare infrastruktuurontwikkeling in Kaapstad toespreek. Die driedaagse geleentheid fokus op die vorming van toekomstige munisipale infrastruktuur en belegging in volhoubare projekte. Dit bring regeringsleiers, burgemeesters, ontwikkelingsbanke, besighede en kundiges van reg oor Afrika bymekaar. Besprekings sal fokus op infrastruktuur, behuising, landbou en digitale ontwikkeling om ekonomiese groei te ondersteun en dienslewering te verbeter. Ramaphosa is die hoofspreker by die Century City-konferensiesentrum.
# Die Motorbedryf-personeelvereniging vra gereelde gesondheidstoetse om voort te gaan indien rybewyse van vyf tot tien jaar verleng word. Die vereniging ondersteun die stap om burokrasie te verminder, maar voer aan motoriste moet steeds elke vyf jaar oogtoetse ondergaan om te verseker hulle bly geskik om te bestuur. Phakamile Hlubi-Majola van die vakbond waarsku dat toestande soos swak sig padveiligheid kan beïnvloed:
# Die Kanadese eerste minister, Mark Carney, sê die doel van handels-onderhandelinge met Amerika was nog altyd om die beste ooreenkoms vir die Kanadese te beding, en nooit ʼn ooreenkoms ten alle koste of teen enige tydsraamwerk nie. Amerika se 50-persent tarief op ʼn reeks Kanadese produkte het die naweek van krag geword. President Donald Trump het intussen gedreig om op 1 Januarie 2027 nuwe tariewe op voertuie in te stel. Carney sê Kanada sal op 8 September met sy eie tariewe wraak neem:
# Krieket: Engeland se snelbouler, Brydon Carse, is ná ʼn voorval buite ʼn Derby-nagklub nie by die groep ingesluit vir die tweede toets teen Pakistan nie. Die aksie begin Donderdag op Lord’s. ʼn Video word versprei waar hy Saterdagaand in boeie deur die polisie weggelei word. Die Engeland en Wallis Krieketraad het die voorval vir ondersoek na die Krieketreguleerder verwys. Carse, wat deur Sonny Barker vervang word, is die derde speler die afgelope 12 maande wat ʼn toets weens ʼn dissipline-kwessie misloop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-737-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-671-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 93-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….