Nuus 08:00
BULLETIN 24 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi sê die regering se vennootskap met geloofsorganisasies is belangrik
# Vusimuzi ‘Cat’ Matlala keer vandag terug na die Madlanga-kommissie
# En ‘n grondstorting by ‘n stortingsterrein in Guinee se hoofstad eis 30, insluitend vyf kinders
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê ‘n vennootskap tussen die regering en die geloofsgemeenskap is belangrik om maatskaplike probleme te hanteer en sterker, veiliger gemeenskappe te bou. Sy het gister die hoofrede gelewer by die St Paul African Apostolic Church se jaarlikse fees in Moletsane, Soweto, Johannesburg. Kubayi, wat ook voorsitter is van die Inter-Ministeriële Komitee oor Migrasie, sê geloofsorganisasies het bygedra om die regte boodskap oor die land se migrasie-krisis te versprei:
# Die vermeende misdaadbaas, Vusimuzi ‘Cat’ Matlala, keer na verwagting vandag terug na die Madlanga-kommissie waar sy regspan ʼn aanvullende beëdigde verklaring sal indien. Hy het verlede week tydens sy verskyning voor die kommissie geweier om vrae te beantwoord oor die omstrede SAPD-Medicare24-kontrak van 228-miljoen-rand, en sy strafregtelike saak en grondwetlike reg teen self-diskriminasie aangevoer. Matlala ontken ook enige verbintenis met die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, en die adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan. Hy erken dat hy die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, ontmoet het.
# Die Oos-Kaapse polisie het vier verdagtes in hegtenis geneem in verband met die moord op voormalige wêreldbokskampioen Zolani Tete. Hy is Vrydag in NU17, Mdantsane, doodgeskiet, terwyl sy meisie gewond is. Polisiewoordvoerder Nobuntu Gantana sê die eerste verdagte is Saterdag in KuGompo-stad in hegtenis geneem, terwyl drie ander gister in Mdantsane en Scenery Park aangekeer is. Sy sê die eerste verdagte is amptelik aangekla van moord en poging tot moord en sal vandag in die hof verskyn:
# ʼn Berg vullis by ʼn stortingsterrein in Conakry, Guinee, het ineengestort en 30 lewens, waaronder vyf kinders, geëis. Minstens 22 ander is beseer. Reddingspanne soek steeds na oorlewendes onder die puin. Volgens berigte het die voorval plaasgevind minder as ʼn week nadat die regering planne aangekondig het om die terrein te sluit en die vullis te verskuif. Dit het blykbaar ʼn bedreiging ingehou, veral weens die reënseisoen wat elke jaar grondstortings en dodelike kits-oorstromings veroorsaak. Amptenare sê die dodetal sal verder styg.
# Tennis: Arthur Fils van Frankryk het die grootste titel van sy loopbaan by die Cincinnati Ope opgeraap. Die 21ste gekeurde Fils het die Amerikaner, Frances Tiafoe, verslaan om met sy eerste ATP Meesters 1000-kroon te spog. Hy het tien plekke opgeskuif en is elfde op die wêreldranglys – die beste van sy loopbaan. In die vroueafdeling het die Amerikaner Coco Gauff met haar landgenoot, Jessica Pegula, afgereken om haar tweede Cincinnati Ope-titel te buit. Fils sê sy harde werk is beloon:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-230-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-642-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 94-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….