Nuus 13:00
BULLETIN 23 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema is bekommerd oor toenemende werkloosheid wat die jeug raak
# Babita Deokaran se moord vyf jaar gelede word vandag herdenk
# En, ‘n mensagtige robot verbeter Usain Bolt se 100-meter-rekord
# EFF-president Julius Malema sê ‘n EFF-geleide regering sal werklose burgers en Sassa-begunstigdes gratis basiese dienste bied. Malema het die party se Grondmagteforum in uMsunduzi, KwaZulu-Natal, toegespreek. Hy sê werkloosheid is buite beheer en die regering versuim om in mense se basiese behoeftes te voorsien. Hy sê Sassa-begunstigdes moet outomaties kwalifiseer vir ondersteuning, ook vir gratis elektrisiteit. Malema het die opmerkings gemaak te midde van ‘n verskerpte veldtog met die oog op die plaaslike regeringsverkiesing:
# Dit is vandag vyf jaar sedert die fluitjieblaser van die Tembisa-hospitaal, Babita Deokaran, buite haar huis in Johannesburg vermoor is na sy korrupsie blootgelê het. Haar dood het gelei hernude ondersoeke na bedrog en tender-onreëlmatighede by die hospitaal, terwyl verskeie mans wat met haar moord verbind word, sedertdien gevonnis is. Burgerlike samelewingsgroepe en haar familie eis steeds aanspreeklikheid en die inhegtenisneming van die meesterbreine agter die moord. Die Ahmed Kathrada-stigting lei vandag herdenkingsgeleenthede en vra vir sterker beskerming van fluitijeblasers.
# Die president van die Inkatha Vryheidsparty, Velenkosini Hlabisa, sê die terugkeer van ongeveer 200 voormalige lede van die National Freedom Party in Durban, KwaZulu-Natal, beklemtoon die groeiende steun vir sy party voor die plaaslike verkiesing. Die lede, waaronder bekende leiers soos die party se nasionale voorsitter Sibusiso Mkhabela, die sekretaris-generaal Teddy Twala en partyraadslede, is by die IVP verwelkom. Die meeste van die lede het die IVP oorspronklik in 2011 verlaat om die NFP te stig. Hlabisa sê hul aankoms is ‘n beduidende mosie van vertroue in die party se beginselvaste leierskap en politieke visie.
# Vyf werknemers van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit is in hegtenis geneem vir die beweerde bedryf van ‘n onwettige elektrisiteitsheraansluitingskema in Vanderbijlpark. Die polisie sê die verdagtes, van die Inkomste- en Elektriese Departemente, het na bewering kliënte geteiken wie se elektrisiteit afgesny was en kontantbetalings in hul persoonlike bankrekenings geëis. Die krag is toe na bewering heraangesluit maar sonder munisipale goedkeuring. Die arrestasies volg na ‘n geteikende operasie deur die Gautengse taakspan vir politieke moorde. Die vyf verskyn môre in die hof.
# Sokker: In ‘n reuseverrassing tydens die openingsnaweek van die 2026–27 Premierliga-seisoen het Hull City hul terugkeer na die Liga na ‘n nege jaar lange afwesigheid, met ‘n historiese oorwinning van 2-0 oor Manchester United gevier. Ten spyte van 72-persent balbesit het Michael Carrick se span min kreatiwiteit, penetrasie en strukturele dissipline getoon. Hull se bestuurder, Sergej Jakirović sê sy span het doelbewus United se bekende swakpunte in die verdediging van vaste fasette geteiken. En in nog ‘n verrassing het Tottenham Hotspurs gister in hul eerste wedstryd van die Premierliga-seisoen met 3-0 teen Brentford verloor.
# En ten slotte, die robotte kry spoed! ‘n Chinese mensagtige robot het Usain Bolt se 100-meter wêreldrekord verbeter met ‘n tyd van 9.39 sekondes by ‘n byeenkoms vir robotte in Beijing. Dis byna twee-tiendes van ‘n sekonde vinniger as Bolt se rekord, wat in 2009 opgestel is. Nog ‘n robot het ook die Jamaikaan se tyd verbeter. Die masjiene het meegeding in items soos sokker, dans en praktiese take. Maar Bolt kan vir eers ontspan — die robotte het dalk sy tyd verbeter, maar gaan nog baie moet leer voor hulle sy windmakerigheid kan ewenaar!
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….