Nuus 09:00
BULLETIN 23 August 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa waarsku ANC-burgemeesterskandidate teen tender-nepotisme
# Zolani Tete se begrafnis vind Saterdag in Mdantsane plaas
# En, die Springbokke verloor Wêreldrugby nommer-een-plek ná die All Blacks-nederlaag
# ANC-president Cyril Ramaphosa het gewaarsku teen nepotisme en partydigheid in munisipale tenderprosesse. Ramaphosa het tydens ‘n ANC-geleentheid in Johannesburg vir die aankondiging van sy burgemeesterskandidate, gesê tenders moet op meriete toegeken word en nie op grond van persoonlike verbintenisse nie. Ramaphosa het ANC-verteenwoordigers aangespoor om eerlikheid, integriteit en aanspreeklikheid te handhaaf, terwyl openbare fondse as die mense s’n hanteer moet word. Ramaphosa sê raadslede moet na verkiesings steeds sigbaar bly in gemeenskappe:
Die ANC-sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê intussen die party het die keuringsproses vir sy burgemeesterskandidate vir openbare benoemings oopgestel om deursigtigheid te verbeter. Mbalula sê ses nominasiestrome is geskep, insluitend takke, gemeenskappe, alliansievennote, ligas en selfbenoemings. Hy sê 532 name is aanvanklik oorweeg, kandidate is op die kortlys geplaas en aan onderhoude en onafhanklike keuring onderwerp. Kandidate is beoordeel op grond van kwessies soos dienslewering, begrotings, fakturering en die wet:
# Die amptelike begrafnisdiens vir voormalige wêreldbokskampioen in twee afdelings, Zolani “Last Born” Tete, sal volgende Saterdag by die KuGompo Stadsaal in Mdantsane, Oos-Kaap, gehou word. ‘n Gedenkdiens word vir Woensdag by dieselfde lokaal beplan. Tete is Vrydag buite sy huis doodgeskiet. Die polisie het sedertdien twee mense van onderskeidelik 22 en 30 jaar oud, in hegtenis geneem, vir ondervraging oor die moord en poging tot moord op die 27-jarige vroue-passasier wat die voorval oorleef het en in die hospitaal is. Die polisie sê meer arrestasies word verwag.
# Transnet sê hy gaan ferm stappe doen oor beweerde verkrygingsonreëlmatighede by sy Richardsbaai-haweterminaal. ‘n Fluitjieblasersverslag oor twee tenders het ‘n interne en eksterne ondersoek tot gevolg gehad, wat gelei het tot die voorsorgskorsing van ‘n naamlose uitvoerende beampte. Transnet sê verdere ondersoeke en dissiplinêre prosesse saam met wetstoepassingsagentskappe, duur voort. Sewe maatskappye is deur die Nasionale Tesourie-prosesse beperk, terwyl 45 werknemers, insluitend bestuurders, ontslaan is weens beweerde diefstal, korrupsie en bedrog.
# Die Kanadese eerste minister, Mark Carney, sê sy land sal van 8 September af tariewe hef op die invoer van Amerikaanse staal, elektronika en ander produkte as vergelding vir president Donald Trump se 50 persent-tariewe wat gisteraand om middernag in werking getree het. Na dae van spannende onderhandelinge kon die twee lande laat Vrydag nog nie ‘n handelsooreenkoms bereik nie, wat die delikate verhouding tussen die langtermyn-handelsvennote en bondgenote verder verswak. Dit kompliseer ook die toekoms van die kontinentale vryhandelsverdrag bekend as die VSA-Mexiko-Kanada-ooreenkoms.
# En rugby: Die Springbokke het hul nommer-een-plek op die Wêreldrugby-ranglys verloor nadat hulle gister ‘n nederlaag van 33-16 teen die All Blacks opEllispark gely het. Nieu-Seeland het ‘n verstommende vertoning in die tweede helfte gelewer na ‘n rustyd-agterstand van 13-12, en vier drieë aangeteken. Die uitslag gee die All Blacks nie net die vroeë voordeel in die vier-toets Rugby’s Greatest Rivalry-reeks nie, maar plaas hulle bo Suid-Afrika op die wêreldranglys. Die tweede toets word Saterdag op die Kaapstad-stadion gespeel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….