Nuus 08:00
BULLETIN 23 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee verdagtes is aangekeer vir die moord op ‘n voormalige wêreldbokskampioen
# Sestien mense is dood en 130 beseer in ‘n Russiese aanval op ‘n winkelsentrum in Oekraïne
# En, ‘n kliniese All Blacks-span oorweldig die Springbokke in die eerste toets
# Twee mense is in hegtenis geneem in verband met die moord op voormalige wêreldbokskampioen Zolani “Last Born” Tete in Mdantsane. Die Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, Brigadier Nobuntu Gantana, sê die verdagtes, onderskeidelik 30 en 22 jaar oud, is gister in KuGompo-stad gearresteer. Hulle word ondervra oor Tete se moord en die poging tot moord op sy vroue-passasier. Sy het bevestig dat ondersoekbeamptes verskeie leidrade opvolg, met meer arrestasies wat verwag word:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het ‘n fluitjieblaser bedank wat haar in kennis gestel het van ‘n beweerde komplot om ‘n senior departementsamptenaar te vermoor wat geweier het om twyfelagtige kontrakte te teken. Kubayi sê sy het onmiddellik wetstoepassingsagentskappe gekontak, wat die bedreiging beoordeel en beskermingsmaatreëls vir die amptenaar en familie ingestel het. Die saak word ondersoek. Kubayi het die amptenaar geprys vir die standpunt wat sy teen korrupsie ingeneem het en sê fluitjieblasers is van kritieke belang om oortredings bloot te lê en lewens te red.
# Die Suid-Afrikaanse Vervoer- en Geallieerde Werkersvakbond en die Verenigde Nasionale Vervoervakbond het die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika se besluit om 508 werknemers af te lê, veroordeel. Die vakbonde noem dit ‘n groot slag vir werkers en die spoorwegsektor. Die vakbonde het ook herontplooiing en vroeë aftrede voorgestel. UNTU se waarnemende hoofsekretaris, Atenkosi Plaatjie, het aan die SABC gesê pogings is aan die gang om werksgeleenthede te red, met 227 werknemers wat as oortollig geïdentifiseer is:
# Minstens 16 mense is dood en meer as 130 gewond toe verskeie Russiese hommeltuie ‘n winkelsentrum in sentraal-Oekraïne getref het. President Volodymir Zelensky het ‘n reaksie belowe op wat hy ‘n “barbaarse daad” noem. Streekgoewerneur Oleksandr Hanzha sê daar was 22 kinders onder die gewondes in die aanval laat Vrydag op die stad Kryvyi Rih, wat Zelensky se tuisdorp is. Hanzha het gister gesê nege mense word voorlopig as vermis beskou, insluitend twee kinders, en reddingswerkers gaan voort om die puin van die winkelsentrum op te ruim.
# Rugby: ‘n Kliniese Nieu-Seelandse span het Suid-Afrika gister met vyf drieë teen een uitoorlê vir ‘n skokkende oorwinning van 33-16 op Ellispark in die eerste toets van die Rugby’s Greatest Rivalry-toer. Die Springbokke was rustyd 13-12 voor, maar is in die tweede helfte oorheers. Hulle het met 13 spelers klaargemaak nadat Marco van Staden en Cobus Reinach albei geelkaarte gekry het. Die enigste Suid-Afrikaanse drie is deur plaasvervanger-agterspeler Andre Esterhuizen gedruk. Cheslin Kolbe het die doelskop en drie strafskoppe deur die pale gejaag, voordat hy en Kurt-Lee Arendse die veld met beserings moes verlaat.
# En ten slotte, die Johannesburg Metropolisie het die tydelike sluiting van Porcupinelaan in Riverside, Diepsloot, aangekondig vir die bekendstelling van die ANC-manifes vandag. Die pad tussen Natal Sandstraat en Pelargoniumrylaan is vanoggend om 7-uur gesluit en sal tot vanaand 7-uur toe bly. Motoriste wat van die suide af reis, word versoek om Natal Sandstraat, Pioneerstraat en Pelargoniumrylaan te gebruik, met dié uit die noorde wat Lanner-rylaan kan gebruik. JMPD-woordvoerder Xolani Fihla het bestuurders aangespoor om beamptes se instruksies te volg:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….