Nuus 09:00
BULLETIN 6 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Wits-professor sê die ANC is gewond en vervalle aan die vooraand van die verkiesing
# Die regering wil die water- en sanitasie-diensleweringsmeganismes in munisipaliteite hersien
# En rugby,’n kragmeting op Twickenham tussen Wallis en die Springbokke word in die vooruitsig gestel
# Tensy daar ‘n onverwagse wending kom, gaan die stand van Suid-Afrika na afloop van die verkiesing ʼn gewonde en vervalle ANC toon. Dis die mening van professor David Everatt van die Wits-bestuurskool. Hy sê die ANC sukkel met aansienlike verval en volgens meningspeilings staan sy ondersteuning onder vasbeslote geregistreerde kiesers op slegs 42-persent, terwyl die DA en EFF waarskynlik minder as ʼn vyfde van die stemme sal kry. Everatt het aan Newzroom Afrika gesê die ANC se oorheersing in KwaZulu-Natal het erg afgeneem en staan op ʼn skamele 26-persent:
# Die Departemente van Water en Sanitasie, en Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering is besig om ʼn gekoördineerde taakspan saam te stel om diensleweringsmeganismes vir water- en sanitasiedienste te hersien. Die span se taak is om prosesse van Artikel 78 van die Wet op Munisipale Stelsels in sekere munisipaliteite aan die gang te sit en te koördineer. Die Departement van Water en Sanitasie se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê die taakspan wil die verslegtende water- en sanitasiedienste aanspreek soos in die jongste Blou-, Groen- en Geen-druppelverslae uiteengesit is:
# Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit sê die brande by Brandvlei en Bainskloof is in bedwang gebring, terwyl die brandlyn in die Matroosberg nog buite beheer woed. Die Brandvlei-brand het gisteraand vinnig versprei en die terrein van die Brandvlei-gevangenis bereik. Die woordvoerder van die munisipaliteit, Anesca Roodt, sê ‘n klein sink-stoorplek is vernietig, maar geen ander eiendom het in die slag gebly nie:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge, Naledi Pandor, beklemtoon die belangrikheid van globale solidariteit om onderdrukking te beveg. Sy het by die Masjidul Quds-moskee in Kaapstad gepraat oor die uitspraak van die Internasionale Geregshof teen Israel vir beweerde skending van die Volksmoord-konvensie. Pandor het daarop gewys verskeie lande het by die regstryd aangesluit ná die hof se tussentydse uitspraak. Sy is vol lof vir die internasionale gemeenskap wat aanspreeklikheid van Israel eis. Pandor het ook gewys op die steun van die ontslape Namibiese president, Hage Geingob, en gewys op sy standpunt teen volksmoord.
Rugby: Die Walliese Rugby-unie beraadslaag volgens berigte met SA Rugby oor die moontlikheid van ʼn wedstryd op Twickenham in die laaste week van Junie. Dit is dieselfde plek waar die Springbokke die All Blacks verlede jaar in ʼn Wêreldbeker-opwarmingswedstryd met 35-7 verpletter het. Vir Wallis sal die wedstryd as opwarming dien voor hulle Australië in Julie in ʼn reeks van twee toetse takel. Die wedstryd sal na verwagting die naweek ná die Verenigde Rugbykampioenskap se eindstryd plaasvind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-2-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-778-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-26-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….