Nuus 13:00
BULLETIN 22 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se burgemeesterskandidate vir die plaaslike regeringsverkiesing word in September aangekondig
# ‘n Valke-offisier sê Wentworth-bendegeweld het skerp gedaal na die dood van ‘n KZN-taxibaas
# En, TikTok gaan 6,4-miljard-rand opdok vir ‘n skikking oor die aanlyn privaatheidswette vir kinders
# Die tweede adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, Nomvula Mokonyane, sê die party sal nie individuele burgemeesterskandidate nou aankondig nie, maar slegs volledige spanne kandidate wat om munisipale poste meeding, bekend maak. Suksesvolle kandidate sal in September aangekondig word. Mokonyane sê die proses weerspieël die ANC se hernuwingsagenda, met groter verteenwoordiging deur vroue, jongmense, persone met gestremdhede en die LGBTQI-gemeenskap. Sy sê die nasionale leierskap het die keuringsproses bestuur met behulp van vasgestelde kriteria om interne geskille te vermy:
# Die KwaZulu-Natal Valke-offisier Deena Govender het aan die Madlanga-kommissie gesê bendeverwante skietery in Wentworth het feitlik opgehou na die dood van taxibaas en insleepdiens-sakeman Bevan Loftus en lede van sy bende. Govender sê Loftus was ‘n persoon van beduidende belang tydens ondersoeke na skietvoorvalle en moorde in die gebied. Hy het die afname toegeskryf aan die ontwrigting van die bende en sê sy bewering kan deur statistiek en bewyse gesteun word:
# Eskom sê sy ommeswaai kry momentum, met die energiebeskikbaarheidsfaktor wat 72,56-persent vir die afgelope week en 67,79-persent op ‘n jaargrondslag bereik het, die hoogste vlak sedert 2020. Eskom-woordvoerder Daphne Mokwena sê onbeplande onderbrekings het met 39,2-persent vir die jaar gedaal. Sewe provinsies is ook van die lasverminderingskedule verwyder, wat ongeveer 1,2-miljoen kliënte bevoordeel. Sy sê Suid-Afrika is nou reeds 462 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag:
# Die DA in Noordwes sê die waarnemende munisipale bestuurder van Tswaing, Cyril Lesang Lobakeng, moet geskors word terwyl korrupsiebewerings teen hom ondersoek word. Die party voer aan dit sal moontlike inmenging met bewyse verhoed. Kagiso Mangwejane van die DA sê Tswaing het aanspreeklike leierskap nodig wat fokus op basiese dienste soos water, sanitasie en paaie. Mangwejane sê ernstige bewerings teen senior amptenare moet behoorlik ondersoek en deur die nodige regsprosesse hanteer word.
# Die Amerikaanse Departement van Justisie sê TikTok en ByteDance het ooreengekom om 6,4-miljard-rand te betaal vir die skikking van eise na die sosialemediaplatform Amerikaanse wette op die beskerming van kinders se aanlyn privaatheid oortree het. TikTok het data van sy jong gebruikers ingesamel en behou sonder om ouers in kennis te stel of hul toestemming te vra. Die regsgeding, wat voortgespruit uit ‘n ondersoek deur die Federale Handelskommissie, beweer TikTok het kinders sedert 2019 willens en wetens toegelaat om rekeninge te skep en met volwassenes op die platform te kommunikeer.
# En sokker: Die verdedigende kampioene Arsenal het gister die perfekte begin gemaak in hul Premierliga-titelverdediging met ‘n stylvolle 3-0 oorwinning teen Coventry in die openingswedstryd van die seisoen. Mikel Arteta se span het nuwelinge Coventry op ‘n oortuigende wyse in die Emirates-stadion geklop. Kai Havertz het vroeg in die eerste helfte toegeslaan en Bukayo Saka het die voorsprong verdubbel voordat Martin Odegaard ná rustyd die derde doel aangeteken het om Arsenal se meesterklas te voltooi. Ander groot kragmetings vanmiddag sluit in Manchester United teen Hull City, en Brentford teen Tottenham Hotspurs.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….