Nuus 07:00
BULLETIN 22 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Deena Govender onthul ‘n opname by die Madlanga-kommissie van beweerde druk om Mkhwanazi te impliseer
# Die ontwikkelende El Niño kan moontlik die sterkste ooit in menseheugenis wees
# En rugby, die All Blacks is statisties die gunstelinge vir vandag se toets teen die Bokke op Ellispark
# ‘n Offisier van die Valke in KwaZulu-Natal, Deenadayalan “Deena” Govender, het ‘n klankopname by die Madlanga-kommissie gespeel, wat volgens hom pogings was om hom te dwing om die Provinsiale Polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi te betrek. Govender beweer Mavuso Ntandane, ‘n medewerker van die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, het hom met arrestasie en lang tronkstraf gedreig as hy nie sou saamwerk nie. Hy sê hy is as ‘n pion gebruik om ‘n saak teen Mkhwanazi te bou:
# Deenadayalan Govender van die Valke in KwaZulu-Natal het bewerings ontken dat lede van die Teen-Bende-eenheid verantwoordelik was vir die dood van taxibaas en insleepdiens-sakeman Bevan Loftus en vier ander by ‘n woonstel in Morningside in Durban. Govender het voor die Madlanga-kommissie gesê sy span was buite die woonstel toe ‘n taktiese polisie-eenheid ingegaan het. Die woonstelbewoners het op die taktiese beamptes begin skiet, wat teruggevuur het:
# Die rand het gister tot onder 16 rand teenoor die dollar versterk en sy sterkste vlak sedert die begin van die Iran-oorlog bereik. Die geldeenheid is aangevuur deur ‘n swakker Amerikaanse dollar en verdere winste in die goudprys. Reuters sê die dollar het in vroeë handel teen ongeveer 16-rand-5 sent verhandel, terwyl News24 berig dit het vir ‘n rukkie onder 16 rand verhandel. Die Amerikaanse geldeenheid het onder druk gekom nadat die Amerikaanse Tesourie planne aangekondig het om langtermyn-staatseffekte te koop. Goud is ook op pad na ‘n derde agtereenvolgende weeklikse wins.
# Brittanje se Weerkantoor sê die ontwikkelende El Niño-weerpatroon kan die sterkste ooit in menseheugenis word. Voorspellings dui daarop dat see-oppervlaktemperature in die Stille Oseaan later vanjaar met meer as drie grade Celsius bo die gemiddelde kan styg. El Niño kan weerpatrone wêreldwyd ontwrig en die risiko van droogte, swaar reën en uiterste temperature verhoog, met moontlik ernstige gevolge vir landbou. Suider-Afrika is onder die streke wat droër toestande tydens El Niño-gebeurtenisse kan ervaar, met 2027 wat heel waarskynlik die warmste jaar ooit sal word.
# Rugbynuus: Die verdedigende kampioene Griekwas het gisteraand ‘n tuis-Curriebeker-halfeindstryd verseker danksy ‘n oortuigende oorwinning van 38-14 oor die Pumas op die Mbombela-stadion. Griekwas was teen rustyd met 17-4 voor en het die tweede helfte oorheers met vyf drieë teenoor die Pumas se twee. Zane Bester het twee keer oorgeduik met die Griekwas wat hul plek bo-aan die punteleer verder versterk het. Intussen het die Stormers steeds uitspeelhoop na ‘n oorwinning van 50-26 oor die Bulle-15 op Loftus in Pretoria. Die Kapenaars was rustyd met 33-7 voor en het sewe drieë teenoor die Bulle se vier gedruk.
# En ten slotte, volgens statistiek is die All Blacks vanmiddag die gunstelinge om die eerste toets teen die Springbokke op Ellispark te wen, hoewel die wêreldkampioene die onlangse wedstryde oorheers het. Nieu-Seeland het 63 van hulle 110 vorige wedstryde gewen en vier was gelykop. Maar die Bokke het vyf van hulle laaste ses wedstryde gewen, insluitend die 2023-Wêreldbeker. In 2024 toe die twee spanne die laaste keer op Ellispark ontmoet het, het die Bokke met 31-27 gewen na hulle die All Blacks in die 1995 Wêreldbekereindstryd op dieselfde veld geklop het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….