Nuus 18:00
BULLETIN 21 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula vra die hof om te verklaar Nkosazana Dlamini-Zuma het hom belaster met bewerings van omkopery by konferensie
# SAPD-brigadier Dineo Mokwele gaan haar toespits op herstel ná terugtrekking van korrupsiesaak
# En, die oorskot van twee stappers wat dekades lank vermis was, word gevind nadat ’n Switserse gletser gesmelt het
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het die Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg versoek om te verklaar Nkosazana Dlamini-Zuma het hom belaster met bewerings dat hy geld aan afgevaardigdes by die party se 2022-konferensie uitgedeel het. Mbalula het die bewerings ontken en sê dit het sy reputasie skade berokken. Hy wil hê Dlamini-Zuma moet om verskoning vra en die bewerings terugtrek wat sy in ‘n onderhoud tydens ‘n aanlyn-uitsending gemaak het:
# Brigadier Dineo Mokwele van die SAPD se Misdaadintelligensiediens het die terugtrekking van bedrog- en korrupsieklagte teen haar en ses medebeskuldigdes in die Pretoria Landdroshof verwelkom. Die Nasionale Vervolgingsgesag het formeel alle aanklagte wat verband hou met Mokwele se aanstelling teruggetrek. Mokwele het haar familie, vriende, ondersoekbeamptes en die Madlanga-kommissie vir hul ondersteuning bedank en gesê die hoofstuk is afgehandel. Sy sê sy sal fokus op die hervorming van die strafregstelsel om toekomstige magsmisbruik te voorkom:
# Forum for South Africa eis sterker ingrypings om die koste van basiese voedsel en noodsaaklike huishoudelike goedere te verminder, energiesekerheid te verbeter en elektrisiteit mer bekostigbaar te maak. Statistiek Suid-Afrika berig dat verbruikersinflasie in Julie gedaal het tot 4,3-persent teenoor vyf-persent in Junie. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, het die regering gewaarsku om nie die daling in die hoofinflasiekoers as bewys te beskou dat die lewenskostekrisis opgelos is nie:
# Die liggame van twee Belgiese stappers wat 34-jaar gelede in die Switserse Alpe verdwyn het, is uiteindelik geïdentifiseer nadat ‘n smeltende gletser hul oorskot onthul het. Hulle was 39 en 41 toe hulle in 1992 verdwyn het terwyl hulle naby die Weissmies-berg gestap het. ‘n Stapper het op 26 Julie menslike oorskot op die Trift-gletser ontdek. DNS-toetse het hul identiteite bevestig. Switserse owerhede sê sulke ontdekkings word al hoe meer algemeen namate gletsers wegtrek en die oorskot van mense onthul wat dekades gelede in die berge verdwyn het.
# Sokker: Die nuwe seisoen van die Engelse Premierliga begin vanaand, met die heersende kampioen Arsenal wat teen die nuweling in die liga, Coventry City, op die Emirates-stadion in Londen speel. Die twee ander nuwe spanne sal môre in aksie wees wanneer Hull City die stryd teen Manchester United aansê, en Ipswich Town en Sunderland sake uitspook. Die tienmalige kampioen Manchester City, onder die nuwe bestuurder Enzo Maresca, begin Sondag sy veldtog teen Bournemouth. Die nuwe Liverpool afrigter, Andoni Iraola, sal die span vir die eerste keer teen Newcastle United lei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-994-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-598-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 95-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….