Nuus 14:00
BULLETIN 21 Augusutus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fadiel Adams beweer sy Artikel 27-beëdigde verklaring is verander en sy handtekening vervals
# Rugby: Die voorlaaste groepsronde van die Curriebeker breek aan
# En ‘n verlore Karoo-skaap oorleef sewe jaar alleen, lewer 30-kilogram wol en inspireer ’n beurs vir boere
# Die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, beweer sy Artikel 27-beëdigde verklaring is verander en sy handtekening moontlik vervals op die dokument wat aan die Madlanga-kommissie voorgelê is. Hy sê belangrike inligting is uit die verklaring verwyder. Kommissarisse het bevraagteken hoe die dokument sy voorletters en handtekening kon bevat as dit nie die weergawe is wat hy onderteken het nie. Adams sê hy dink die handtekening is waarskynlik vervals:
# AfriForum sê die energiereguleerder Nersa se plan om sleutelprestasie-aanwysers vir munisipale elektrisiteitsverspreiders in te stel, sal nie diensleweringsprobleme oplos tensy bestaande reëls afgedwing word nie. Morné Mostert van die organisasie sê Nersa moet swak prestasie ondersoek, lisensievoorwaardes afdwing en tegniese beheer uitvoer:
Nuus uit die buiteland:
# Die voormalige Pakistanse premier, Imran Khan, is terug tronk toe geneem nadat hy etlike ure in die hospitaal deurgebring het. Dokters het hom medies gesond verklaar. Khan se party sê die stap skend ‘n bevel van die Hooggeregshof dat hy tot minstens middel-September onder mediese toesig moet bly. Owerhede sê hy is om veiligheidsredes na ‘n staatshospitaal geneem in plaas van die privaat hospitaal wat die hof gespesifiseer het. Khan is sedert 2023 in die tronk en ondersteuners sê sy gesondheid het versleg.
# Rugby: Drie Curriebekerwedstryde word vandag beslis en nog een Sondag, terwyl daar môre gefokus word op die eerste toets tussen die Springbokke en die All Blacks. Die Pumas verwelkom vanmiddag drie-uur die Griekwas in Mbombela, gevolg deur die wedstryd tussen die Blou Bulle en die Stormers-23 op Loftus. Vanaand kom die Haaie-vyftiental en die Leeus in Pietermaritzburg teen mekaar te staan, en Sondag speel die Cheetahs en Boland in Bloemfontein. Die laaste groepswedstryde word volgende naweek gespeel, gevolg deur die halfeindstryde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-48-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-582-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 95-dollar-46-sent per vat.
# En ten slotte: ’n Skaap wat sewe jaar alleen in die Karoo oorleef het, het ’n nuwe beursfonds vir toekomstige boere geïnspireer. Rico het droogte, roofdiere en strawwe toestande oorleef voordat hy gevind is in die Moordenaars-Karoo op die grens van die Wes- en die Noord-Kaap. Hy het daarna ’n plaaslike rekord van 30,7-kilogram wol opgelewer. Die Nasionale Wolkwekersvereniging en die Universiteit van die Vrystaat het die Rico-beursfonds gestig, met tien landboubeurse wat reeds toegeken is terwyl die publiek genooi word om ook by te dra.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….