Nuus 08:00
BULLETIN 6 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership South Africa vra ‘n duidelike verbintenis in die Staatsrede om hervorming in te stel
# Nehawu vra vir die spoedige ondertekening van die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering
# En sokker, Bafana is gereed vir hulle eerste Afrikabeker-halfeindstryd in 24 jaar
# Business Leadership South Africa vra president Cyril Ramaphosa om Donderdag in sy Staatsrede ‘n duidelike verbintenis te toon tot die harde werk om hervorming in te stel. Die uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê die president moet op die elektrisiteitskrisis fokus wat ʼn groot remskoen is, asook die logistieke stelsel wat vinnig ʼn ramp vir die ekonomie geword het. Sy sê in ʼn verkiesingsjaar is daar altyd politieke druk vir populisme en die Nasionale Gesondheidsversekering, wat nooit sal werk nie, is ‘n voorbeeld van populisme wat bo praktiese oorwegings gestel word.
# Die gesondheidsvakbond Nehawu het president Cyril Ramaphosa versoek om die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering spoedig as wet te onderteken, nadat die Nasionale Raad van Provinsies dit goedgekeur het. Die vakbond beklemtoon die uitgebreide prosesse vir debatvoering en openbare deelname en beklemtoon die dringendheid van die nakoming van die mandaat wat deur Suid-Afrikaners onderskryf is. Woordvoerder Lwazi Nkolonzi sê verdere vertragings sal beloftes ondermyn wat in die president se verklaring van 8 Januarie gemaak is en aan miljoene billike toegang tot gesondheidsorg ontneem:
# Die tradisionele eerste minister van die Zoeloe-nasie, Thulasizwe Buthelezi, sê tradisionele leiers wil ʼn meer betekenisvolle en regstreekse rol speel in die beheer van die Ingonyama Trust. Die Trust is verantwoordelik vir 2,8-miljoen hektaar grond in die voormalige tuisland van KwaZulu-Natal, met koning Misuzulu kaZwelithini as enigste trustee. Dit verteenwoordig sowat 30-persent van die provinsie se grondgebied. Buthelezi sê die koning sal alles in sy vermoë doen om die grond tot voordeel van die Zoeloe-nasie te beskerm, te bewaar en te ontwikkel:
# Die hertog en hertogin van Sussex se kantoor sê prins Harry het met sy pa, koning Charles, gepraat en sal binne die volgende paar dae na die Verenigde Koninkryk reis om hom te besoek. Dit volg nadat Buckingham-paleis gister aangekondig het die koning is met kanker gediagnoseer. Die paleis sê koning Charles het Harry en die prins van Wallis, asook sy sibbe gebel om die nuus oor sy gesondheid te deel. Die verhouding tussen die koning en Harry is reeds ʼn geruime tyd gespanne en is vererger deur die bekendstelling van sy boek, Spare.
# Sokker: Die Afrikabekertoernooi in die Ivoorkus bereik môre die voorlaaste ronde en Suid-Afrika berei voor om vir die eerste keer in 24 jaar vir ‘n plek in die eindstryd te speel wanneer hulle teen Nigerië te staan kom. Die gashere en DR Kongo speel in die ander wedstryd. Bafana Bafana het beïndruk met hulle veggees met die kaptein en doelwagter, Ronwen Williams, wat vier strafdoele gekeer het in hulle oorwinning met strafdoele oor die Kaap-Verdiese Eilande in die kwarteindstryd. Afrigter Hugo Broos glo hulle kan die toernooi wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-5-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-835-dollar-76-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-23-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….