Nuus 08:00
BULLETIN 21 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof sal vandag die MK-party en UAT se afsettingsappèl aanhoor
# Verskeie lande veroordeel Israel se omstrede vestigingsplanne
# En tennis: Carlos Alcaraz keer by die Amerikaanse Ope terug
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof hoor vandag ‘n dringende aansoek van die MK-party en die United Africans Transformation aan om te appelleer teen die tussentydse interdik dat die parlementêre Ampsklagkomitee sy verhore staak. Dit volg nadat die Konstitusionele Hof ʼn vroeëre appèl van die African Transformation Movement en ander partye verwerp het. Die interdik is hangende president Cyril Ramaphosa se hersiening van die Artikel 89-paneel se verslag. UAT-leier, Wonder Mahlatsi, sê die Hooggeregshof se beslissing was verkeerd:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê groter aanspreeklikheid moet deel wees van ‘n uitgebreide poging om sterftes in bouwerk te verminder. Daarby is beter munisipale wette en professionele toesig nodig en die reguleerders moet inligting deel. Hy het inligting bekend gemaak oor vier bou-insidente in Redcliffe in Verulam, Doornkop in Soweto; Ormonde in Johannesburg en die Magnoliaontwikkeling in Seepunt, Kaapstad waain 17 mense dood en 24 beseer is. Macpherson sê professionele bouers deur wie se nalatigheid tot mense se dood gelei het, behoort aangekla te word:
# Statistiek Suid-Afrika sê siviele skulddagvaardings het tussen April en Junie met 0,8-persent gedaal in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Skuldvonnisse het egter met 9,9-persent toegeneem. Vhonani Kwinda van Statistiek SA sê die syfers dui aan hoewel minder nuwe skulddagvaardings uitgereik is, het meer skuldsake tot hofvonnisse gelei met die betrokke bedrae wat aansienlik hoër was:
# Die leiers van Frankryk, Duitsland, Italië, die Verenigde Koninkryk, Noorweë en Nederland veroordeel die Israelse regering se besluit om tenders uit te reik om ʼn nedersetting te bou wat enige tweestaat-oplossing sal kelder. Die E1-nedersettingprojek sal die Wesoewer afsny van Oos-Jerusalem, wat die Palestyne as die hoofstad van hul toekomstige staat beskou. Die lande sê in ʼn gesamentlike verklaring die besluit is selfs meer kommerwekkend, gegewe die onbestendigheid in die Wesoewer, waar ongekende vlakke van geweld volgens berigte tussen setlaars en burgerlikes voorkom.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, wat vier maande laas aan kompetisies deelgeneem het, maak sy terugkeer by die Amerikaanse Ope. Die 23-jarige Spanjaard het in April sy regter-pols by die Barcelona Ope beseer. Hy kon gevolglik nie sy titel by die Franse Ope verdedig nie en het Wimbledon misgeloop. Alcaraz sou vandeesmaand by die Cincinnati Ope terugkeer, maar het onttrek. Die sewemalige Grand Slam-kampioen gaan probeer om sy derde Amerikaanse Ope-titel te wen. Die enkelspel-afdeling begin op 30 Augustus in New York.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-8-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-603-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-531-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 94-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….