Nuus 07:00
BULLETIN 21 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê die bande tussen Suid-Afrika en Zimbabwe moet ekonomiese geleenthede bied
# Die Madlanga-kommissie veroordeel die intimidasie van joernaliste
# En die PRASA- ministeriële taakspan kry meer tyd om alternatiewe vir afleggings te ondersoek
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika en Zimbabwe moet hulle sterk bilaterale verhouding omskep in ekonomiese geleenthede soos belegging, handel, werksgeleenthede, infrastruktuur en beter lewensomstandighede. Hy het gister die ministeriële vergadering van die vierde sitting van die Suid-Afrika-Zimbabwe Bi-nasionale Kommissie in Pretoria toegespreek. Meer as 33 ooreenkomste en memorandums van verstandhouding is bereik sedert die kommissie in April 2015 gestig is. Lamola sê die bilaterale samewerking moet bydra tot groter streeksintegrasie:
# Die Madlanga-kommissie veroordeel die intimidasie van joernaliste wat die verhore in Pretoria bywoon, en sê dis lede van die media se grondwetlike reg om hul pligte uit te voer. Dit volg na die inhegtenisneming van die omstrede sakeman, Stuart James Scharnick, nadat hy na bewering die Sowetan-joernalis, Herman Moloi, gekonfronteer en gedreig het omdat hy hom tydens gister se teepouse sonder toestemming afgeneem het. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michael, sê wanordelike gedrag op die openbare verhore se perseel sal nie geduld word nie:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het die kennisgewingperiode vir die aflegging van werkers by die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika verleng. Dit is om die ministeriële taakspan meer tyd te gee om alternatiewe vir 227 werkers te vind. Van die 580 betrokke werkers, het 43 vroeë aftrede-pakkette aanvaar terwyl 102 na ander vakante poste by PRASA-afdelings en -departemente oorgeplaas is. Nog 208 werkers in die beskermingsdienste se poste word beskerm hangende die uitslag van beraadslaging met Transnet oor die oordrag van stasies en verwante bates.
# Die DA het die Parlement versoek om Eskom en reguleerders aanspreeklik te hou vir besoedeling by die Kusile-kragstasie in Mpumalanga. Volgens die party het ‘n uitspraak deur die Appèlhof bevind besoedelingsperke is oortree en die afdwinging was swak. Kevin Mileham van die DA wil ‘n dringende gesamentlike parlementêre verhoor hê om vas te stel of die omgewingsmislukkings Kusile se finansieringsooreenkomste beïnvloed het, en of kredietverskaffers en die Nasionale Tesourie in kennis gestel is:
# Die Demokratiese Republiek die Kongo gaan Ervebo-entstowwe van die globale Ebola-entstofvoorraad ontvang om in die huidige Bundibugyo-virus-uitbreking te gebruik. Die dodetal staan op twee-duisend-476. Die internasionale samewerkingsgroep vir entstofvoorsiening gaan aanvanklik 70-duisend dosisse van die Ervebo-entstof beskikbaar stel. Hiervan sal 20-duisend dosisse ‘n fase drie kliniese proefneming ondersteun terwyl 50-duisend dosisse vir werkers in die voorste linie gebruik sal word. Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê dis nie bekend of Ervebo doeltreffend is teen die Bundibugyo-virus nie
# Rugby: Die Bulle-15 het drie nuwelinge in hul groep ingesluit vir môreaand se Curriebeker-wedstryd teen die Stormers-23 op Loftus, met die gashere wat op soek is na hul eerste oorwinning van die seisoen. Loskopstut Arno Gustafson en buitesenter Pieter van der Merwe sal hul debuut in die beginspan maak, en haker Duwan Potgieter behoort sy eerste kans van die bank af te kry. Skrumskakel Keagan Johannes sal die Bulle aanvoer, met Devon Williams op losskakel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-10-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-533-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-530-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 95-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….