Nuus 18:00
BULLETIN 20 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa doen ’n beroep op die sakewêreld vir meer beleggings terwyl ekonomiese hervormings voortgaan
# Die Valke het slegs die helfte van die personeel wat hulle nodig het
# En, rugby: Gary Teichman sê die Bokke is gereed om die reeksnederlaag van 1996 teen die All Blacks te wreek
# President Cyril Ramaphosa het ondernemings aangemoedig om beleggings te verhoog terwyl die regering voortgaan met ekonomiese hervormings wat daarop gemik is om groei te bevorder en werk te skep. Ramaphosa het tydens die bekendstelling van fase drie van die regering-besigheidsvennootskap in Johannesburg gesê die regering moet beleidsekerheid, doeltreffende regulering, betroubare infrastruktuur en bekwame instellings bied, terwyl ondernemings produksie moet uitbrei, plaaslike verskaffers en nuwe markte moet ontwikkel en werk moet skep:
# Die Valke, Suid-Afrika se elite-misdaadbestrydingseenheid, werk tans met ongeveer twee-duisend-515 vakatures, insluitend ongeveer een-duisend-500 vakante ondersoekposte. Die waarnemende hoof van die Valke, Siphesihle Nkosi, het aan die Parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekeninge gesê dit is moeilik om geskoolde ondersoekers te behou omdat hulle beter geleenthede elders vind. LP’s was ook bekommerd oor die duur van ondersoeke en die aantal sake wat die Nasionale Vervolgingsgesag geweier het om te vervolg. Nkosi het aan SCOPA gesê die Valke het 315 poste geadverteer om ervare ondersoekers te probeer werf.
# Die algemene nywerheidsvakbond GIWUSA sê hy neem kennis van die jongste inflasiesyfers wat Statistiek Suid-Afrika bekend gemaak het. Die syfers toon die inflasiekoers het in Julie tot 4,3-persent gedaal, van 5-persent in Junie. Die president van GIWUSA, Mametlwe Sebei, sê hoewel die afname deur laer brandstofkoste, laer voedselprysinflasie en kleiner verhogings in munisipale tariewe effens verligting bring, is die lewenskostekrisis wat werkers en arm huishoudings in die gesig staar, steeds ernstig:
# Rugby: Die voormalige Springbok-kaptein Gary Teichman glo die huidige Bok-groep is in die beste moontlike posisie om sy span se reeksnederlaag teen die All Blacks 30 jaar gelede te wreek. Nieu-Seeland het in 1996 2-1 gewen vir hul eerste reeksoorwinning ooit in Suid-Afrika. Die eerste van vier toetse vind Saterdag op Ellispark plaas. Teichman sê afrigter Rassie Erasmus het ‘n sterk groep gebou wat Nieu-Seeland kan klop:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-611-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-480-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 95-dollar-15-sent per vat.
# En laastens, ’n seldsame Kerskaartjie wat uit 1910 dateer, is by ’n oudhede-uitstalling in Brittanje ontdek en is op ongeveer 55-duisend-rand gewaardeer. Die kaartjie hou verband met die vrouestemregbeweging en bied ’n kykie op hoe veldtogvoerders alledaagse items gebruik het om hul saak te bevorder. Die kaartjie is deur die eienaar na die uitstalling gebring, wat blykbaar nie besef het hoe ongewoon dit was nie. Kenners het nou die geskiedkundige waarde daarvan uitgelig as ’n herinnering dat selfs Kerskaartjies ’n interessante blik op die destydse lewenswyse en politieke geskiedenis kan bied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….