Nuus 14:00
BULLETIN 20 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# NERSA gee die groenlig vir 124 opwekkingsaanlegte in die eerste kwartaal van die boekjaar
# Noord-Korea lanseer ‘n vermeende ballistiese missiel
# En tennis: Aryna Sabalenka word uit die Cincinnati-ope geskakel
# Die energiereguleerder, NERSA, het in die eerste kwartaal van die huidige boekjaar 124 opwekkingsaanlegte geregistreer. Dit wek saam 804 megawatt krag op, met ‘n geraamde beleggingswaarde van 20,18-miljard-rand. Foto-voltaïese sonkrag-tegnologie was die gewildste keuse vir die opwekking van elektrisiteit. NERSA se woordvoerder, Charles Hlebela, sê 63 van die 124 aanlegte is aan munisipale verspreidingsnetwerke verbind en 61 aan Eskom se netwerk:
# Die geskorste LP en leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, is voor die Madlanga-kommissie uitgevra oor die bevestiging van dokumente wat hy beweer onder sy kantoordeur ingeskuif is. Hy sê sommige dokumente lyk of dit in sy handskrif is, maar was nie deel van die oorspronklike lêer nie. Adams het ook bevraagteken hoekom die bondel meer papierwerk bevat as wat hy oorhandig het:
# Die vakbondfederasie SAFTU steun ten volle die vakbond FAWU se eis vir ‘n loonverhoging van 13-persent in die suiker-vervaardigings- en -raffineringsbedryf. Duisende werkers het hierdie week hulle beskermde staking hervat nadat loononderhandelings op ‘n dooiepunt uitgeloop het. Die Werkgewersvereniging vir die Suiker-vervaardigings- en -Raffineringsbedryf bied ‘n loonverhoging van 5,4-persent aan. Asive Dyani van SAFTU sê werkers moet weereens opoffer omdat die bedryf ekonomiese uitdagings ervaar:
Nuus uit die buiteland:
# Noord-Korea het nog ‘n vermeende ballistiese missiel na die See van Japan afgevuur. Suid-Koreaanse en Japannese owerhede sê die lansering het plaasgevind net dae voor Suid-Korea en Amerika se groot militêre oefeninge, wat Pyongyang lank reeds as uitlokkend veroordeel het. Seoel sê die missiel is vanaf die Wonsan-gebied gelanseer en het ongeveer 700-kilometer afgelê voordat dit in die see naby die Koreaanse Skiereiland geland het. Dit was Noord-Korea se tweede missiellansering in minder as ‘n week. Amerika, Suid-Korea en Japan monitor die verwikkelinge noukeurig.
# Tennis: Die Tsjeg Sara Bejlek, wat 35ste op die wêreldranglys is, het die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, uitgeskakel om haar eerste WTA-een-duisend-kwarteindstryd te haal op die Cincinnati-ope in Amerika. Bejlek se volgende wedstryd is teen die voormalige kampioen, Madison Keys van Amerika, wat Xiyu Wang van China geklop het. Coco Gauff en haar Amerikaanse landgenoot, Amanda Anisimova, is ook deur na die kwarteindronde. In die mans-afdeling het die Amerikaner Frances Tiafoe die Kanadees Felix Auger-Aliassime verslaan om sy tweede Meesters-een-duisend-kwarteindstryd van die seisoen te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-11-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-784-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-485-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 95-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….