Nuus 12:00
BULLETIN 20 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA dien hofstukke in teen die polisie oor die beweerde Phala Phala-toesmeerdery wat senior offisiere vryspreek
# Australië veroordeel Israel se besluit om nie soldate strafregtelik te vervolg oor die dood van ses hulpwerkers nie
# En Harry en Meghan gaan volgens berigte na Brittanje terugkeer
# ActionSA het hofstukke teen die Polisiediens by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien oor ‘n beweerde polities-gedrewe poging om lede van die presidensiële beskermingsdiens te beskerm. ʼn Polisie-ondersoek het die hoof van die diens, Wally Rhoode, en Hlulani Rekhoto vrygespreek nadat hulle beskuldig is dat hulle die inbraak op president Cyril Ramaphosa se plaas, Phala Phala, in Limpopo in 2020 toegesmeer het. ActionSA se woordvoerder, Michael Beaumont, sê die ondersoek was ʼn bedrogspul:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Handel, Nywerheid en Mededinging sê hy ondersteun die Mededingingskommissie se werk om wangedrag in die mark teen te werk, pro-mededingende maatreëls in hoogs gekonsentreerde sektore in te stel, en mededingende tegnologie-markte te bevorder. Die kommissie het die komitee ingelig oor die gevolge van die Konstitusionele Hof se beslissing oor die voortgesette rand-manipulering-saak waarby 28 banke betrek word. Die komitee se voorsitter, Mmusi Maimane, sê mededingingskwessies soos oorkonsentrasie en randmanipulering beïnvloed uiteindelik lewenskoste, voorheen benadeelde mense se toegang tot markte, en beleggings.
Nuus uit die buiteland:
# Die Australiese minister van Buitelandse Sake, Penny Wong, is woedend omdat Israel nie strafregtelike aanklagte gaan instel vir die moorde op die Australiese hulpwerker Zomi Frankcom en haar ses kollegas van die World Central Kitchen nie. Hulle is in April 2024 dood in ‘n Israeliese aanval in Gaza. Die Weermag het al sy personeellede vrygespreek. Wong sê die verwydering van twee offisiere en die blote berisping van drie is ontoereikende aanspreeklikheid:
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, glo haar span is in staat om vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi vir vroue te kwalifiseer, maar erken die tussenkontinentale uitspeelwedstryde in November gaan ʼn uitdaging wees. Die trekking vind vandag in Zürich, Switserland, plaas, met Suid-Afrika, Ecuador, Papoea-Nieu-Guinee, Chinese Taipei, Oezbekistan en Ghana se name in die hoed. Ellis sê hulle gaan hulle bes doen om die laaste kwalifiseringsronde te haal:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-10-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-83-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-492-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 94-dollar-33-sent per vat.
# En laastens, die hertog en hertogin van Sussex beplan glo om hierdie maand na Brittanje terug te keer, ses jaar nadat hulle na Amerika verhuis het. Prins Harry en Meghan het Brittanje in 2020 verlaat na hulle van die openbare verhoog teruggetree het, glo weens onder meer poniekoerant-indringing, rassisme in Britse instellings, aanlyn teistering en ingewikkelde familie-dinamika. Koning Charles is volgens berigte Sondag die eerste keer ingelig oor die Sussexe se beplande terugkeer. Harry, Meghan en hul twee kinders, Archie en Lilibeth, sal in ‘n nie-koninklike woning buite Londen woon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….