Nuus 11:00
BULLETIN 20 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA dien hofstukke in teen die polisie oor die beweerde Phala Phala-toesmeerdery wat senior offisiere vryspreek
# Die MK-party sê Ramaphosa kan nie toegelaat word om die ampsklagkomitee se werk te ontwrig nie
# En sokker: Banyana Banyana se afrigter sê voorbereiding is belangrik vir die Wêreldbeker-tussenkontinentale uitspeelwedstryde
# ActionSA het hofstukke teen die Polisiediens by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien oor ʼn beweerde polities-gedrewe poging om lede van die presidensiële beskermingsdiens te beskerm. ʼn Polisie-ondersoek het die hoof van die diens, Wally Rhoode, en Hlulani Rekhoto vrygespreek nadat hulle beskuldig is dat hulle die inbraak op president Cyril Ramaphosa se plaas in Limpopo, Phala Phala, in 2020 toegesmeer het. ActionSA se woordvoerder, Michael Beaumont, sê die ondersoek was ʼn bedrogspul:
Die MK-party sê intussen Ramaphosa se beswaar teen Thandazani Madonsela se aanstelling as die ampsklagkomitee se getuienisleier, is nog ʼn berekende poging om die proses te ontspoor. Ramaphosa voer aan Madonsela het belangebotsings, onder meer omdat hy onlangs die ANC raad gegee het oor die ampsklagproses. Die MK-party se parlementêre leier, John Hlophe, sê Ramaphosa het geen gesag om die getuienisleier goed te keur of te veto nie:
# Die Stad Kaapstad sê watervoorraad bly bestendig, maar die gevaar van waterbeperkings het toegeneem weens stygende vraag en onsekere reënval. Damvlakke was vroeg in Julie ongeveer 76-persent na goeie reën, maar voorspellings dui op ondergemiddelde reënval. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê die stad belê in nuwe waterbronne, insluitend grondwater, die hergebruik van water, ontsouting en oppervlakwaterprojekte. Hy het inwoners en sake-ondernemings gevra om steeds water verantwoordelik te gebruik.
Nuus uit die buiteland:
# Rusland het oornag ‘n vlaag aanvalle op Oekraïne geloods waarin minstens 12 mense dood en 34 beseer is. Woonstelgeboue, pakhuise en ‘n kinderhospitaal is geteiken. ‘n Hommeltuig het in Roemeense gebied geval, maar geen ongevalle is aangemeld nie. Pole se Weermag het intussen met verdedigende lugoperasies begin om sy lugruim te beskerm. Moskou het meer as ‘n dosyn gebiede rondom Kiëf geteiken en meer as een-duisend-550 hommeltuie lanseer. Oekraïne het hierdie week sy aanvalle in Rusland versterk en 16 mense is dood.
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, glo haar span is in staat om vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi vir vroue te kwalifiseer, maar erken die tussenkontinentale uitspeelwedstryde in November gaan ʼn uitdaging wees. Die trekking vind vandag in Zürich, Switserland, plaas, met Suid-Afrika, Ecuador, Papoea-Nieu-Guinee, Chinese Taipei, Oezbekistan en Ghana se name in die hoed. Ellis sê hulle gaan hulle bes doen om die laaste kwalifiseringsronde te haal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-10-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-744-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-487-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 94-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….