Nuus 08:00
BULLETIN 20 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Advokaat Madonsela kritiseer Ramaphosa se beswaar teen sy aanstelling as getuienisleier
# Generaal Mkhwanazi sê gevangenisse is die teelaarde vir bendes
# En die VSA en Kanada sê hulle finaliseer ‘n handelsooreenkoms
# Advokaat Thandazani Madonsela sê president Cyril Ramaphosa se teenkanting oor sy aanstelling as die Ampsklagkomitee se getuienisleier is nie op feite gebaseer nie. Ramaphosa maak beswaar teen Madonsela as getuienisleier en voer aan daar is botsende belange weens sy besluit in 2022 om hom van die Regterlike Dienskommissie te verwyder. Hy sê Madonsela het boonop onlangs die ANC raad gegee oor sake wat met die ampsklag-ondersoek verband hou. Madonsela sê hy het dit aangemeld en die komitee het hom ten spyte daarvan gekies.
# Die Kommissaris van Polisie in KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, sê Suid-Afrika se korrektiewe instellings is die broeiplek vir misdaad en bendes. Hy het gister die Parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie ingelig as deel van ‘n beraad oor bendeverwante geweld. By die beraad was slagoffers van bendeverwante geweld, burgerlike organisasies, gemeenskaporganisasies en individue wat daagliks werk om bendegeweld te beëindig. Mkhwanazi sê die probleem strek verder as die gevangenes, soos die onlangse inhegtenisneming ‘n beampte van die korrektiewe dienste gewys het:
# Die Wes-Kaapse regering sê 82 persent van die provinsie veekudde is teen bek-en-klouseer ingeënt. Byna 480-duisend entstofdosisse is aan kommersiële en bestaansveeboere in alle distrikte toegedien. Dit is gedoen om boere, werkgeleenthede, voedselsekerheid en die provinsie se landbou-ekonomie te beskerm. Die LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, sê 28 uitbrekings is steeds aktief, terwyl elf opgelos is:
# President Donald Trump sê Amerika het “’n baie regverdige” handelsooreenkoms met Kanada bereik. Onderhandelaars het gister vergader nadat Trump die instelling van 50-persent-tariewe op ʼn reeks Kanadese produkte voorlopig uitgestel het. Kanada se eerste minister, Mark Carney, sê hulle werk aan ʼn ooreenkoms waar die beste bepalings ingesluit word by elke land se belangrikste strategiese sektore. Amerika se handelsverteenwoordiger, Jamieson Greer, sê die ooreenkoms skakel “sommige van die irritasies” uit wat Amerika teen Kanada gehad het:
# Rugby: Suid-Afrika se Verenigde Rugbykampioenskap-speler van die seisoen, Embrose Papier, het twee groot eerbewyse gewen by die Bulle se jaarlikse toekennings. Na ʼn uitsonderlike 2025-2026-veldtog is die skrumskakel aangewys as die spelers se Speler van die Jaar en die Senior MVP/Speler van die Jaar. Losvoorspeler, Jeandré Rudolph, is aangewys as 2025 Curriebeker-speler van die Jaar en Voorspeler van die Jaar in die Kampioenebeker. Vleuel Cheswill Jooste is Nuweling van die Jaar. In die vroue-afdeling het Camelitha Malone van die Bulls Daisies twee toekennings ontvang, onder meer die spelers se Speler van die Jaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-9-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-899-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-495-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….