Nuus 07:00
BULLETIN 20 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê Mark Burke moet steeds aanspreeklik gehou word
# Die Verenigde Arabiese Emirate skort alle handel met Iran op na ‘n ballistiese missielaanval
# En die Rugby’s Greatest Rivalry-trofee beklemtoon die unieke band tussen die Springbokke en All Blacks
# Die ANC sê die DA-voorsitter van federale Finansies, Mark Burke, se verwydering uit die Parlement se finansies-komitees onthef hom nie van aanspreeklikheid nie. Dit het Maandag aan die lig gekom dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank die beleggingsfirma, Kastelo, ondersoek weens vermeende oortreding van valuta-beheermaatreëls. Burke is ‘n eienaar en stigter van die maatskappy wat tans deur sy broer bestuur word. Die ANC sê verwydering van ʼn komitee hanteer moontlik botsende belange, maar vervang nie regsprosesse, ondersoeke of die verpligting om vrae van openbare belang te beantwoord nie.
# AfriForum sê die bygewerkte elektrisiteitsprysbeleid sal min waarde hê tensy die energiereguleerder, Nersa, bestaande elektrisiteitswette en -reëls behoorlik afdwing. Morné Mostert van Afriforum sê swak regulering dwing verbruikers om hoër elektrisiteitsrekeninge te betaal, terwyl sommige munisipaliteite nie aan basiese vereistes voldoen nie. Mostert sê die reguleerder moet verseker dat elektrisiteitstariewe behoorlik op die koste van kragvoorsiening gebaseer is:
# Die Motorbedryf-personeelvereniging vra dringende optrede om dodelike klipgooiery op motoriste te verhoed. Dit volg na die dood van ‘n vrou wat deur ‘n groot klip getref is terwyl sy onder ‘n brug op die R24 in Bedfordview, Johannesburg, gery het. Phakamile Hlubi-Majola van die vereniging doen ‘n beroep op motoriste om waaksaam te bly, nie onder brûe te stop nie en om ekstra versigtig te wees wanneer hulle bekende brandpunte nader:
# Gauteng se LUR van Onderwys, Lebogang Maile, sê die departement sal voortgaan met pogings om veiligheid by skole te versterk en dwelmmisbruik, gevaarlike wapens en ander verbode items in skole te bekamp. Hy was gister by ʼn onaangekondigde soek-en-beslagleggingsbesoek onder leiding van die Suid-Afrikaanse Polisiediens by drie hoërskole in Alexandra. Hulle het beslag gelê op onder meer dwelms, messe, glasskerwe en skêre. Maile sê hy is bekommerd oor die aard van die items, veral dwelms en voorwerpe wat ernstige beserings kan veroorsaak:
# Die Verenigde Arabiese Emirate, Iran se tweede grootste handelsvennoot, het tot verdere kennisgewing alle handel, kommersiële uitruiling en finansiële transaksies met Teheran opgeskort. Dit volg nadat twee ballistiese missiele op die Golf-staat afgevuur is. Die VAE se ministerie van Verdediging sê sy lugafweerstelsels het twee ballistiese missiele op pad van Iran opgemerk. Een het in die see en buite sy gebiedswater geval. Teheran ontken dat hy missiele afgevuur het en sê die beskuldigings is ongegrond. Hy waarsku sulke bewerings kan streeksdiplomasie en pogings om vertroue te skep, ondermyn.
# Rugby: Rugby’s Greatest Rivalry se trofee bestaan uit twee helftes, maar word magneties bymekaar gehou om die unieke band tussen die Springbokke en die All Blacks vas te vang. Die trofee se ontwerp herinner aan ʼn grashalm. Suid-Afrika se helfte het kunswerk op deur Bonolo Chepape, en Nieu-Seeland s’n is versier met Māori-kunselemente, ontwerp deur Kereama Taepa. Die wenners van die toernooi van vier toetse, sal op 12 September albei helftes ontvang na die laaste toets in Baltimore, Amerika. Indien die reeks gelykop eindig, ontvang elke nasie ʼn helfte.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-9-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-328-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-501-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 93-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….