Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Februarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Skryf uitreikings in die primêre vaste-inkomstemark in Suid-Afrika het in die laaste kwartaal van 2023 met 91-persent tot 55,4-miljard-rand gestyg toe talle maatskappye die effektemark genader het vir kapitaal om groeiprojekte te finansier.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die minister van Gesondheid, dokter Joe Phaahla sê die staat kan nie meer jong dokters bekostig om die tekort aan geneeshere aan te vul nie. Die intreevlak-dokters wil te veel verdien.
Dan skryf die koerant die moordbeskuldigde, Werner de Jager het na bewering met selfdood gedreig nadat dit aan die lig gekom het dat hy moontlik nog twee moordklagtes in die gesig staar. Dit volg ná ‘n motorongeluk waarin twee vroue omgekom het.
En laastens word berig drie mans is in hegtenis geneem in verband met die moord op die 39-jarige dokter Nicholas Procter. Hy was ‘n narkotiseur van Mbombela.
# The Star en Pretoria News:
Skryf verbruikers moet hulself voorberei op brandstofprysstygings.
En berig dit is vandag agt jaar sedert die ramp by Lily-myn toe drie werknemers lewend ondergronds vasgekeer is.
# Sowetan:
Berig die ondersoekbeampte in die moordsaak van die sakeman, Wandile Bozwana het onthul hoe hy die skuldiges vasgetrek het. Sersant Evans Butso Mongwe het inligting oor die verloop van sy ondersoek met die koerant gedeel.
# En The Citizen:
Skryf volgens ‘n meningsopname gaan beide die ANC en DA steun in tradisionele ondersteuningsgebiede verloor tydens die verkiesing.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met die berig oor Werner de Jager wat dreig met selfdood.
Dan word berig die topdrie matrikulande van die Goudveld Hoërskool in Welkom het saam by die Universteit van die Vrystaat ingeskryf om medies te studeer.
En laastens skryf die koerant die polisie ondersoek die moontlikheid van ‘n reeksmoordenaar nadat vier liggame in Botshabelo gevind is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met dieselfde hoofberig as Beeld oor die hoë salarisse van intreevlak-dokters.
En tweedens het die koerant nuus oor drie leeus wat van kant gemaak moes word ná die veldbrand by die Fairy Glen-natuurreservaat by die Paarl.
# En Cape Times:
Skryf die onwettige mynbedrywighede van die Zama Zamas kos die land miljarde rand.
En berig ook oor die verwagte brandstofprysstyging.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig in die voortslepende regstryd tussen die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit en die bestuurshoof van die ontwikkelingsagentskap, Anele Qaba word sy kwalifikasies nou in twyfel getrek.
En tweedens skryf die koerant die honderd polisiebeamptes van Noordwes wat in Nelson Mandelabaai ontplooi is, is ontevrede met hulle huisvesting.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die Zoeloe-koning Misuzulu ka Zwelithini wil hê die Amakhosi moet die Ingonyama Trust beheer.
En tweedens berig die koerant ook oor die tekort aan fondse om duur jong dokters aan te stel.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig dele van Namibië het die afgelope naweek reën ontvang met die verre Suide en Noorde wat die hoogste reënval aangeteken het. Sommige damme het hul eerste invloei gehad.
En tweedens skryf die koerant die seepgladde verandering in leierskap ná die afsterwe van president Hage Geingob sal die internasionale en plaaslike beleggersgemeenskap gerus stel.