Nuus 17:00
BULLETIN 19 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu steun die mynwerkersvakbond se regsgeding oor Eskom se herstrukturering
# Die Forum for South Africa sê NSFAS moet ontbind word
# En, rugby: Meer as ‘n duisend kaartjies nog beskikbaar vir die toets op Ellispark
# Die vakbondfederasie Cosatu steun die mynwerkersvakbond N-U-M se regsgeding teen die Eskom-herstruktureringstaakspan se fase een-verslag. Die federasie is gekant teen enige stap na die privatisering van die elektrisiteitsnetwerk en eis waarborge dat Eskom-werkers nie hul werk of bedingingsregte verloor nie. Zanele Sabela van Cosatu sê die regering moet eers Eskom se finansiële probleme pak, insluitend die meer as 120-miljard-rand wat munisipaliteite hom skuld:
# Die Forum for South Africa sê die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente moet ontbind word en met ‘n nuwe, deursigtige, aanspreeklike model vervang word wat studentebefondsing professioneel bestuur. Die Openbare Beskermer se verslag oor die skema het tekortkominge in bestuur, administrasie en fonds-koördinering gevind. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê Suid-Afrika kan nie voortgaan om miljarde rand te stort in ʼn stelsel wat studente en belastingbetalers voortdurend in die steek laat nie:
# Pakistan se regering betwis ‘n bevel van die Hooggeregshof om die gevange voormalige eerste minister, Imran Khan, na ‘n privaat hospitaal te verskuif vir mediese behandeling. Die hof het gelas die 73-jarige moet binne twee dae van die Adiala-gevangenis na die Shifa Internasionale Hospitaal in Islamabad oorgeplaas word weens kommer oor sy gesondheid. Die regering voer aan veroordeelde gevangenes moet behandeling ontvang in die tronk of in ‘n openbare hospitaal. Khan se regspan sê hy het aansienlike sigverlies in sy regteroog.
# Rugby: Tussen een- en twee-duisend kaartjies is nog beskikbaar vir Saterdag se eerste toets tussen die Springbokke en die All Blacks in Johannesburg, ondanks ‘n Uitverkoop-kennisgewing wat vroeg in Junie op Rugby’s Greatest Rivalry se Facebook-blad geplaas is. Beskikbare kaartjies vir die wedstryd op Ellispark kos van een-duisend-650- tot vier-duisend-rand elk. Die hoë pryse het vroeër ‘n debat ontketen oor bekostigbaarheid en SA Rugby het ‘n hersiening van pryse vir volgende jaar aangekondig. Kaartjies is nie uitverkoop vir enige van die Bokke se Nasieskampioenskapstoetse nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-793-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-438-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 92-dollar-37-sent per vat.
# En laastens, Die Beninese musiekikoon Angélique Kidjo het geskiedenis gemaak as die eerste Afrika-musikant en eerste swart kunstenaar uit Afrika wat ‘n ster op die Hollywood Walk of Fame ontvang het. Die vyfmalige Grammy-wenner is in Los Angeles vereer. Dit is ‘n mylpaal in haar loopbaan van meer as vier dekades. Kidjo se ster is die tweeduisend-854ste in die opnamekategorie. Die sangeres, aktrise en aktivis het gehelp om Afrika-musiek na wêreldwye gehore te neem, terwyl sy generasies van jonger Afrika-kunstenaars geïnspireer het. Sy sê Afrika bly die kern van alle musiek in die wêreld.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….