Nuus 15:00
BULLETIN 19 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Waarskuwing dat Johannesburg se agteruitgang Suid-Afrika se groei bedreig
# Fadiel Adams eis ‘n terugtrekking van die Parlement se bewering dat hy oor skootrekenaarprobleme gelieg het
# En padwedlope: Rekordprysgeld en inskrywings vir volgende jaar se 100ste Comrades
# ‘n Onafhanklike organisasie sonder winsbejag, die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming, sê die verergerende finansiële, infrastruktuur- en bestuurskrisisse in Johannesburg bedreig Suid-Afrika se ekonomiese groei. ‘n Verslag toon die stad skuld krediteure 25,2-miljard-rand, terwyl infrastruktuur-agterstande miljarde-rand beloop. Johannesburg se werkloosheidsyfer in die tweede kwartaal is 35,9-persent, ‘n verlies van 90-duisend werksgeleenthede oor 14-maande. Woordvoerder Refiloe Benjamin sê politieke onbestendigheid, insluitend nege burgemeesters en agt koalisies sedert 2016, ondermyn langtermyn-beplanning en belegging.
# Die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, het voor die Madlanga-kommissie getuig sy regspan het van die Parlement geëis om bewerings terug te trek dat hy inligting oor sy problematiese skootrekenaar versin het. Voorsitter Mbuyiseli Madlanga het hom daaroor uitgevra. Adams het bevestig LP’s kry drie toestelle, maar ontken dat hy beweer het al drie het nie gewerk nie. Hy sê e-posboodskappe is voorgelê om sy weergawe te staaf:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta verwelkom die Openbare Beskermer se bevindings oor die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Die verslag onthul dat meer as 40-duisend studente op onbehoorlike wyse NSFAS-befondsing van ongeveer 5,1-miljard-rand ontvang het. Makaneta vra die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, om die bevindinge dringend in werking te stel:
# Padwedlope: Volgende jaar se 100ste Comrades-marathon sal die grootste deelnemersveld nóg hê, terwyl rekordprysgeld ook op die spel is. Die organiseerders sal 28-duisend inskrywings aanvaar vir die uitmergelende wedloop op 13 Junie, met prysgeld van meer as 8,9-miljoen-rand. Die wenners van die mans- en die vrouewedloop sal elk ‘n miljoen-rand ontvang, met bonus-aansporings indien van toepassing. Inskrywings open volgende Dinsdag en sal tot 22 September in fases aanvaar word. Die afstand van die af-wedloop tussen Pietermaritzburg en die Kingspark-stadion in Durban sal later bekend gemaak word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-472-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-372-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-24-sent per vat.
# En ten slotte: Johannesburgse Stadsparke en Dieretuin nooi gesinne uit vir ‘n reünie op Saterdag die 22ste. Die toegangsfooi sal slegs 22-rand per persoon wees as deel van sy spesiale aanbod van “22-rand op die 22ste” wat die dieretuin se 122ste verjaarsdag herdenk. Dis in 1904 geopen. Stadsparke sê die afslagtarief maak ‘n gesinsuitstappie bekostigbaar en moedig oupa’s en ouma’s, kinders, stokvelle en gemeenskapsgroepe uit om die dieretuin te besoek. Besoekers word gemaan om die park skoon te hou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….