Nuus 17:00
BULLETIN 18 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel voormalige minister Nhlanhla Nene aan as voorsitter van die Finansiële en Fiskale Kommissie
# Donald Trump se goedkeuringsyfer daal tot die laagste vlak in sy presidentskap
# En, rugby: Rassie sê die nuwe protokol veroorsaak frustrasie vir afrigters
# President Cyril Ramaphosa het die voormalige minister van Finansies, Nhlanhla Nene, aangestel as voorsitter van die Finansiële en Fiskale Kommissie vir ‘n tydperk van vyf jaar. Malijeng Ngqaleni is die ondervoorsitter. Die ander vier lede wat aangestel is, is Bulelwa Nqadolo, Advokaat Neo Tsholanku, Andrew Donaldson en Astrid Ludin. Die kommissie voorsien die Parlement, provinsiale wetgewers en plaaslike owerhede van raad oor geldsake en fiskale kwessies. Ramaphosa sê die lede se kennis en ervaring sal beduidende waarde voeg tot die kommissie.
# Build One South Africa sê nasionale en provinsiale regeringsinstellings is 1,44-miljard rand aan die Stad Johannesburg verskuldig vir noodsaaklike munisipale dienste. Die burgemeesterskandidaat van BOSA in Johannesburg, Nobuntu Hlazo-Webster, sê hierdie onbetaalde skuld plaas druk op die stad se finansies en bedreig die stad se vermoë om infrastruktuur te onderhou en dienste te lewer. Sy sê streng finansiële dissipline, billike inkomste-invordering en vinnige geskilbeslegting is van kardinale belang. Sy sê om ‘n volhoubare Johannesburg te bou, moet regeringsdepartemente finansiële aanspreeklikheid prioritiseer en uitstaande munisipale rekeninge vinnig vereffen:
# WhatsApp-boodskappe voor die Madlanga-kommissie dui aan die vermoorde taxibaas Mswazi Msibi het na bewering die sakeman Ze Nxumalo gebruik om ‘n vervoertender van Ekurhuleni te beïnvloed. Die hoofgetuienisleier, Matthew Chaskalson, sê Msibi het na bewering ‘n projekbestuurseenheid en tegniese dienstekontrak identifiseer voordat dit geadverteer is, blykbaar vir Kamprock Eiendoms Beperk. Die tender hou verband met Ekurhuleni se Geïntegreerde Sneldiens-openbare Vervoernetwerk. Chaskalson sê die boodskappe laat vrae ontstaan oor die verkrygingsproses:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, se goedkeuringsyfer is op die laagste vlak in sy presidentskap, terwyl die oorgrote meerderheid Amerikaners bekommerd is dat die oorlog met Iran nog lank kan voortduur. Dit volgens ‘n Reuters/Ipsos-meningsopname wat gister afgehandel is. Slegs 33-persent van die deelnemers sê hul keur Trump se optrede in die Withuis goed, terwyl 64-persent dit afkeur. Dit is laer as die 35-persent wat vroeër hierdie maand aangeteken is, en verteenwoordig die laagste steun vir Trump sedert die begin van sy huidige termyn. Die syfer ewenaar ook die laagste vlak in sy presidentskap, wat in Desember 2017 gemeet is.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die nuwe protokol wat afrigters se toegang tot skeidsregters beperk, kan lei tot gevolge waaraan Wêreldrugby nie gedink het nie. Breiers het nou veel minder insig oor veld-beslissings, wat verlede maand daartoe gelei het dat Italië se afrigter, Gonzalo Quesada, ‘n skorsing en formele waarskuwing gekry het oor sy uitbarsting na die wedstryd teen die All Blacks. Erasmus verwag ‘n toename in afrigters wat skeidsregters voor wedstryde in die media probeer beïnvloed en sê die nuwe protokol is frustrerend.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-20-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-121-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-393-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 93-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….