Nuus 16:00
BULLETIN 18 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reigerpark-moordsaak is uitgestel vir ‘n borgtog-aansoek
# Gholf: ‘n Tweemalige Amerikaanse Ope-kampioen bevestig sy deelname aan die Nedbank-uitdaging
# En die Vaal-gemeenskap is waaksaam namate pogings begin om ‘n krokodil te vang
# Die Landdroshof in Boksburg, Gauteng, het die Reigerpark-moordsaak tot volgende Dinsdag uitgestel vir ‘n formele borgtogaansoek. Die tweede beskuldigde, die 24-jarige Jamal Meyer, het sy eerste verskyning gemaak en aangesluit by sy medebeskuldigde, Regan Collins. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Magaboke Mohlatlole, sê hulle staan tereg op vier aanklagte van moord wat verband hou met die skietvoorval vroeër die maand waarin vier mense dood is, insluitend twee beamptes van die Teenbende-eenheid:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Minerale en Petroleumbronne sê Suid-Afrika benodig ‘n regulatoriese raamwerk wat die omgewing en gemeenskappe se regte beskerm, terwyl dit beleggers voldoende sekerheid bied om verantwoordelike olie- en gas-verkenning te onderneem. Die Konstitusionele Hof het Shell en Impact Africa se verkennings-bedrywighede langs die Wildekus verbied. Die komitee is bekommerd oor die wyer gevolge van langdurige regsonsekerheid en herhaalde vertragings vir belegging, verkenning en ekonomiese ontwikkeling in die aflandige petroleumsektor.
# Die DA sê die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling het tussen 2022 en vanjaar meer as 20,6-miljoen-rand aan 211 geleenthede bestee, terwyl boere aanhou sukkel. Die DA-lid, Bronwynn Engelbrecht, sê die besteding is onthul tydens antwoorde op vrae in die provinsiale wetgewer. Sy sê die departement moet voorkeur gee aan landbou-infrastruktuur, veeartsenykundige dienste, produksiemiddele en marktoegang en nie aan duur funksies nie:
# Gholf: Die tweemalige Amerikaanse Ope-kampioen, Bryson DeChambeau, het sy deelname aan vanjaar se Nedbank-uitdaging bevestig. Die toernooi vind vroeg in Desember plaas op die Gary Player-buiteklub in Sun City, Noordwes. DeChambeau het vanjaar ook die LIV Gholf-toernooi op Steyn City in Johannesburg gewen. Die Suid-Afrikaanse gholfikoon, Gary Player, wat in sy loopbaan nege major-titels gewen het is die gasheer. Hy sê hy is verheug dat die Amerikaner vanjaar meeding oor sy passie, krag en toewyding aan die spel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-20-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-274-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-399-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-88-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Drie-meter-lange krokodil is in die Vaalrivier gesien, en owerhede waarsku mense om nie te swem of aan water-bedrywighede deel te neem tot die dier gevang is nie. Charles van der Merwe van die Water-wetstoepassingspan sê daar is reeds ‘n vanghok. Die reptiel, waarskynlik ‘n Wes-Afrika slanksnuit-krokodil, is nie aggressief nie, maar steeds gevaarlik. Van der Merwe sê inwoners moet die Vanderbijlparkse polisiestasie of Vaal River Rats inlig oor enige waarnemings. ‘n Koopbewys van 20-duisend-rand word aangebied vir inligting wat daartoe lei dat die krokodil veilig gevang word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….