Nuus 15:00
BULLETIN 18 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Motoriste moet gereed maak vir brandstofprysverhogings in September
# CemAir vra die Mededingings-tribunaal om Harith se oorname van FlySafair te verhoed
# En rugby: Die All Blacks se afrigter beskou die reeks teen die Bokke as moeiliker as die Wêreldbekertoernooi
# Middelmaand-data van die Sentrale Energiefonds toon motoriste kan hoër brandstofpryse verwag in September. Die prys van 93-oktaan-petrol toon tans ‘n onderverhaling van 66-sent per liter, terwyl 95-oktaan-petrol met sowat 77-sent per liter kan styg. Dieselgebruikers kan die swaarste getref word, met stygings van tussen twee-rand-73 en twee-rand-90 per liter. Kenners sê die verhogings word aangevuur deur stygende internasionale oliepryse en voortdurende spanning in die Midde-Ooste, ondanks ‘n redelik bestendige rand teenoor die Amerikaanse dollar.
# Die Madlanga-kommissie het gehoor die geskorste polisiesersant Fannie Nkosi het ‘n demonstrasie gereël van selfoonnasporings-tegnologie en steuringstegnologie van die Tsjeggiese maatskappy InvaSys. Die hoof-getuienisleier, Matthew Chaskalson, sê WhatsApp-bewyse betrek Nkosi, die sakelui Steve Motsumi en Katiso Molefe en die vermoorde taxibaas Mswazi Msibi, wat voorgegee het om die regering te verteenwoordig. Chaskalson en kommissaris Sandile Khumalo het kommer uitgespreek oor Nkosi se beweerde gebruik van polisiedokumente om bedrog te vergemaklik:
# CemAir vra die Mededingingstribunaal om Harith Aviation se beplande verkryging van Safair Holdings, die eienaar van FlySafair, te verbied. CemAir voer aan die transaksie kan oorvleuelende ekonomiese en bestuursbelange skep waarby die Lanseria-lughawe in Gauteng, die regeringspensioenfonds, die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse Lugdiens betrokke is, wat mededinging kan beïnvloed. Die lugredery vra beskermingsmaatreëls, insluitend die onafhanklike bestuur van lughawens, streng beheer oor die uitruil van inligting en gelyke toegang. Die Mededingingskommissie steun die goedkeuring van die transaksie onderhewig aan sekere voorwaardes.
# Rugby: Die All Blacks se afrigter, Dave Rennie, beskou die komende reeks teen die Springbokke as baie moeiliker as ‘n Wêreldbekertoernooi. Hy sê in ‘n Wêrelbeker wissel die krag van die teenstanders aansienlik, terwyl hulle teen Suid-Afrika elke keer teen dieselfde sterk teenstander speel. Die twee lande kan in die kwarteindronde van volgende jaar se toernooi in Australië ontmoet. Rennie sê die gebruik van feitlik al sy spelers in die vooraf-wedstryde was goeie voorbereiding vir Saterdag se eerste toets op Ellispark.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-286-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-389-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-62-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Studie deur die Universiteit Stellenbosch en Artefact Suid-Afrika vra geteikende voorkomings- en ondersteuningstrategieë om kuberboeliegedrag onder tieners hok te slaan. Navorsers Daniel le Roux en Camryn Twaddle het bevind 63,9-persent van die leerders wat ondervra is, was betrokke by kuberboeliegedrag. Twaddle sê die studie het bevind meisies en seuns het verskillende vorms van aanlyn mishandeling ervaar, met TikTok, Instagram en Snapchat as die platforms wat die meeste met kuberafknouery verbind word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….