Nuus 14:00
BULLETIN 18 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oliepryse styg terwyl hoop op ‘n vredesooreenkoms in die Midde-Ooste vervaag
# Motoriste moet gereed maak vir brandstofprysverhogings in September
# En rugby: Peyper verwerp aantygings dat die Bokke wedstryde doelbewus stadiger maak
# Oliepryse het vandag vir ‘n derde agtereenvolgende verhandelingstydperk gestyg namate hoop vir ‘n blywende vredesooreenkoms tussen Amerika en Iran vervaag, wat kommer oor wêreldwye energievoorrade wek. Iran sê hy sal ‘n meer aggressiewe militêre houding inneem na onderhandelings misluk het, terwyl Washington die moontlikheid uitgesluit het om ‘n tydelike skietstilstand te verleng. Brent-ruolie het ‘n hoogtepunt van 91-dollar-76-sent per vat bereik. Voortgesette ontwrigting van olieverskepings deur die strategies-belangrike Seestraat van Hormoes steun steeds die hoër olieprys en vererger kommer oor moontlike voorsieningsprobleme.
Middelmaand-data van die Sentrale Energiefonds toon intussen Suid-Afrikaanse motoriste kan in September hoër brandstofpryse verwag. Die prys van 93-oktaan-petrol toon tans ‘n onderverhaling van 66-sent per liter, terwyl 95-oktaan-petrol met sowat 77-sent per liter kan styg. Dieselgebruikers kan die swaarste getref word, met stygings van tussen twee-rand-73 en twee-rand-90 per liter. Kenners sê die verhogings word aangevuur deur stygende internasionale oliepryse en voortdurende spanning in die Midde-Ooste, ondanks ‘n redelik bestendige rand teenoor die Amerikaanse dollar.
# Die Madlanga-kommissie se kommissaris, Sesi Baloyi, vra dat die geskorste polisiesersant Fannie Nkosi aanspreeklik gehou word nadat getuienis aangedui het hy het polisiebriefhoofde vir privaat transaksies gebruik. Die hoof-getuienisleier, Matthew Chaskalson, het WhatsApp-boodskappe oor Nkosi en die vermoorde taxibaas Jothan Msibi voorgelê. Hy sê dit toon na bewering hoe Nkosi instem om ‘n konsepbrief oor ‘n demonstrasie van produkte met dubbele gebruik in Suid-Afrika op ‘n polisiebriefhoof te plaas:
# Die Wes-Kaapse polisie het ‘n 16-jarige tiener van Malmesbury aangekeer in verband met ʼn internasionale netwerk wat kinders seksueel misbruik. Dit volg op ʼn gesamentlike operasie deur die Amerikaanse Federale Ondersoekburo, die Suid-Afrikaanse Polisiediens se nasionale ondersoekspan vir Elektroniese en Reeksmisdade, die Amerikaanse ambassade en die nasionale sentrum vir vermiste en uitgebuite kinders. Polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê daar is beslag gelê op toestelle met eksplisiete foto’s en video’s:
# Rugby: Die Springbokke se tegniese raadgewer, die voormalige toets-skeidsregter Jaco Peyper, sê aantygings oor die vertraging van die spel gebeur op stadions waar die lug dun is. Die All Blacks sê Suid-Afrikaanse spanne vertraag die spel doelbewus en ondermyn pogings om dit te versnel. Peyper sê spelers het 30 sekondes van die oomblik dat die skeidsregter sy voet neersit om ‘n merk te maak vir ‘n skrum of ‘n lynstaan:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-107-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-394-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….