Sportnuus 12:00
BULLETIN SPORTNUUS 18 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kyk eerste na rugbynuus: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hulle verstaan maar alte goed hoe die All Blacks wil speel. Hy verwerp bewerings uit Nieu-Seeland dat die Bokke die spel stadig maak. Hy sê hulle vind altyd ‘n balans wanneer wedstryde regtig moeilik raak:
Intussen dink die Bulle se afrigter, Johan Ackermann, nie die All Blacks se vertoning teen sy span, die Stormers en die Haaie is ‘n aanduiding van hoe hulle teen die Springbokke gaan vaar nie. Nieu-Seeland het die streekspanne redelik maklik verslaan voor die eerste toets. Die voormalige slot, wat tussen 1996 en 2007 13 toetse vir Suid-Afrika gespeel het, sê die Bokke sal meer wedstrydfiks wees as die franchise-spanne. All Black-afrigter Dave Rennie waarsku sy spelers om hul spelpeil te verhoog teen die wêreldkampioen.
# Sokker: FIFA se bedryfshoof, Kevin Lamour, is afgedank nadat hy verlede maand die president, Gianni Infantino, se mislukte plan in die openbaar kritiseer het om ʼn deel van die Wêreldbekertoernooi aan beleggers te verkoop. Hy beskryf die omstrede FIFA Forward Enterprise-plan as een persoon se projek en sê personeel is mislei. Daar was wydverspreide kritiek op die voorstel, wat behels het dat 21-persent van die beheerliggaam aan privaat beleggingsmaatskappye verkoop word. Lamour se vertrek volg op die bedanking van ʼn senior raadgewer van Infantino, Carlos Cordeiro.
# Gholf: LIV Gholf het bevestig dat sy spankampioenskap in Michigan gekanselleer is en hierdie week se toernooi in Indianapolis die laaste van dié seisoen is. Die wegbreekliga is in onsekerheid gedompel sedert die Saoedi-Arabiese Beleggingsfonds in April sy finansiële steun onttrek het. LIV Gholf se uitvoerende hoof, Scott O’Neil, het onlangs ‘n ooreenkoms met ‘n nuwe naamlose hoofbelegger bevestig om die 2027-seisoen te befonds. Hy sê die vroeë einde stel hulle in staat om te fokus op die streng bedryfs-vereistes wat nodig is vir so ‘n oorgang.
# En motorsport: Zandvoort gaan die naweek die laaste keer die Nederlandse Formule Een Grand Prix aanbied omdat dit nie finansieel lewensvatbaar is nie ondanks die gewildheid. Die wedren is in 2021 weer op die kalender geplaas na ‘n afwesigheid van 36 jaar, maar die inkomste was te laag en die organiseerders het besluit om nie vir verdere werdrenne te bie nie. Verlede jaar se wenner, McLaren se Australiese jaer, Oscar Piastri, is tans sewende in die bestuurders-kampioenskap met 92 punte, 127 punte agter die voorloper, Mercedes se Italiaanse jaer, Kimi Antonelli.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….