Nuus 12:00
BULLETIN 18 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Gewapende man word doodgeskiet ná ‘n ure-lange drama met die polisie buite Robertson
# Rugby: Die All Blacks se afrigter sê hulle weet wat om van die Springbokke te verwag
# En ‘n elektrisiën wen MasterChef en stap weg met ‘n miljoen-rand
# ‘n Gewapende man is doodgeskiet op ʼn plaas by De Hoop buite Robertson in die Wes-Kaap na ʼn ure-lange dooiepunt met die polisie. Hulle het op ʼn klagte gereageer en het onder skoot gekom, waarna die taktiese taakspan ontbied is om in te gryp. Woordvoerder Nonkululeko Phokane sê die situasie is aan die Spesiale Taakmag oorhandig, wat die bedreiging beëindig het. Sy sê ‘n polisiebeampte is gewond en herstel tans:
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het sy raadplegings-dokument oor die vernuwing van BTW bekendgestel en ‘n openbare raadplegingsproses begin om die land oor te skakel na ‘n digitale BTW-administrasiestelsel met bykans onmiddellike verwerking. Die diens stel ‘n aanlyn BTW-model voor wat e-fakturering en e-rapportering integreer om BTW-administrasie te herposisioneer, nakoming te vergemaklik en toesig te versterk. Kommissaris Johnstone Makhubu sê die verandering is nodig om die administratiewe las op ondernemings te verminder en bedrog hok te slaan. Belanghebbendes kan tot 16 Oktober skriftelike kommentaar indien.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse gesant, Jared Kushner, sê Hamas kan binnekort ontwapen, maar Amerika sal verdere Israelse militêre optrede in Gaza steun indien dit nie gebeur nie. Hy en die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, het gister ooreengekom om twee werksgroepe te stig. Een sal fokus op ontwapening en verwydering van militêre infrastruktuur in Gaza, en een op openbare gesondheidskwessies. Kushner sê daar is aandag gegee aan sommige van Netanyahu se geldige bekommernisse:
# Rugby: All Black-afrigter Dave Rennie verwag die Springbokke sal Saterdag op Ellispark aanhoudende druk op die besoekers plaas met hul kragtige vaste fasette om foute af te dwing. Die All Blacks gaan die eerste toets met selfvertroue tegemoet na oorwinnings oor die Stormers, Haaie en Bulle. Saula Ma’u het Ollie Norris vervang en Noah Hotham en Richie Mo’unga het ook by Nieu-Seeland aangesluit. Rennie sê hulle sal volgens hul sterkpunte speel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-153-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-388-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-11-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Elektrisiën van Kimberley in die Noord-Kaap, Andrew “Benji” Benjamin, is die wenner van MasterChef South Africa se sesde seisoen en het prysgeld van ‘n miljoen-rand losgeslaan. Die 40-jarige amateursjef het Candice Meth van Durban in ‘n spannende eindronde uitgestof. Benjamin, ‘n hoogspanning-elektrisiën, het kykers en beoordelaars beïndruk met sy kalm benadering en kookvernuf. Die oorwinning is ‘n reuse-prestasie vir Benjamin, wat sê sy gesin het sy passie vir kook aangewakker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….