Nuus 09:00
BULLETIN 18 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BLSA sê munisipale skuld is die werklike bedreiging vir Eskom
# Die Parlement sê minister Manamela moet die raad van die studentehulpskema sy werk laat doen
# En Brittanje sê hy staan bankvas agter Oekraïne
# Business Leadership South Africa se hoof, Busisiwe Mavuso, kritiseer die Eskom-raad se weerstand teen die ontbondeling van transmissie-bates en beskuldig die raad dat hy lener-kompleksiteit as ‘n wapen gebruik om herstrukturering teen te staan. Eskom-voorsitter Mteto Nyati hou vol die kragverskaffer se finansiële probleme moet eerste hanteer word om die skepping van ‘n onafhanklike transmissiestelsel-operateur moontlik te maak. Die Nasionale Unie van Mynwerkers het die hof genader om Eskom se herstrukturering uit te daag. Mavuso sê Eskom se ware bedreiging is nie ontbondeling nie, maar munisipale skuld van 114-miljard-rand.
# Die Parlement se gekose komitee oor Onderwys, Wetenskappe en Kreatiewe Nywerhede vra die minister van Hoër Onderwys, Buti Manamela, om die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente vinnig toe te laat om met sy werk te begin. Die Hooggeregshof in Pretoria het verlede week die aanstelling van professor Hlengani Mathebula as die skema se administrateur opgeskort en beveel dat die res van die raadslede weer aangestel word. Die minister sê die raad is nie meer gekonstitueer nie. Die komiteevoorsitter Makhi Feni sê die administrateur se aanstelling was van die begin af chaoties:
# Die Tshwane-metropolisiedepartement sê hy toon geen verdraagsaamheid wat misdadigheid en wangedrag in sy geledere betref nie. Dit volg nadat een van sy konstabels, Peter Nonyane, gearresteer is in verband met ʼn bedrog- en geldwassery-skema met 1,75-miljoen-rand uit ʼn boedel. Die metro se woordvoerder, Isaac Mahamba, sê die saak vestig weer aandag op wetstoepassingsbeamptes en die maatreëls wat owerhede tref wanneer lede van misdadigheid beskuldig word:
# Brittanje sê hy staan bankvas agter Oekraïne en sal die toerusting verskaf wat Kiëf nodig het om homself teen die onwettige inval van Rusland se president Vladimir Putin te verdedig. Rusland se ambassade in Brittanje beskuldig Brittanje dat hy die krisis in die Oekraïne doelbewus vererger. Dit volg na bevestiging dat Brits-vervaardigde hommeltuie gebruik is in Kiëf se aanvalle op Russiese teikens. Die Verenigde Koninkryk se ministerie van Verdediging sê Moskou moet besef hy is gekant teen Russiese aggressie in Oekraïne en teen sy bondgenote.
# Tennis: Die topgekeurde Alexander Zverev van Duitsland is deur na die vierde ronde van die Cincinnati Ope na ‘n oorwinning oor die Fransman Terence Atmane. Die 19-jarige Spanjaard Rafael Jodar het Alejandro Tabilo van Chili gewen en is nou saam met Carlos Alcaraz en Ben Shelton die enigste tieners om hierdie dekade die laaste 16 in Cincinnati te haal. In die vroue-afdeling het die verdedigende kampioen Iga Swiatek van Pole die eerste stel teen die Griek Maria Sakkari verloor maar teruggeveg en in drie stelle gewen. Die tweede gekeurde Elena Rybakina van Kazakhstan het die Pool Magdalena Frech uitgeskakel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-25-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-66-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-392-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….