Nuus 08:00
BULLETIN 18 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nywerheidsontwikkeling is nou die middelpunt van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap
# Die ad hoc-komitee mag inligting van die Madlanga-kommissie aanvra
# En die Spesiale Tribunaal magtig die verkoop van Hangwani Maumela se Ferrari vir 9,5-miljoen-rand
# President Cyril Ramaphosa sê besprekings by die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se 46ste gewone beraad vir staats- en regeringshoofde het ‘n gedeelde vasberadenheid getoon om streeksintegrasie te versterk, samehorigheid te verbeter en saam te werk om probleme te takel. Hy het gisteraand in Durban die slotrede gelewer. Tydens die geleentheid is beraadslaag oor handel, infrastruktuur, energie, nywerheidsontwikkeling en streeks-waardekettings. Ramaphosa sê hulle verwelkom die aanvaarding van die beraad se tema, wat die bespoediging van industrialisering die hooftema van die streeksagenda maak:
# Die Parlementêre ad hoc-komitee wat bewerings van korrupsie in die strafregstelsel ondersoek, het besluit om slegs oor huidige getuienis te beraadslaag vir die formulering van sy verslag, en het geen dokumente van die Madlanga-kommissie aangevra nie. Die kommissie het voorheen materiaal van die komitee gebruik om teenstrydighede deur getuies uit te wys. Komiteevoorsitter Soviet Lekganyane sê die komitee werk streng met wat hy het, maar indien nodig, kan hy steeds inligting van die Madlanga-kommissie aanvra. Die komitee moet sy werk teen 11 September afhandel.
# Die Spesiale Tribunaal het toestemming gegee dat ʼn Ferrari SF90 Stradale verkoop mag word wat aan die MHR Maumela-familietrust en met sakeman Hangwani Morgan Maumela verbind word. Dit hou verband met die Spesiale Ondersoekeenheid se ondersoek na vermeende korrupsie en wanadministrasie by die Tembisa-hospitaal, waar ongeveer twee-miljard-rand deur onregmatige verkrygingsprosesse geplunder is. Maumela word beskuldig dat hy deur ʼn netwerk maatskappye meer as 820-million-rand van die hospitaal gesteel het. Die tribunaal het toestemming gegee dat die kurator die Ferrari vir minstens 9,5-miljoen-rand verkoop.
# President Donald Trump van Amerika het kritiek verwerp dat hy voorkeur gee aan belange van teenstanders soos Nood-Korea, bo langtermyn-bondgenote. Hy sê sy benadering tot Noord-Korea se leier, Kim Jong Un, maak die wêreld veiliger. Dit volg nadat hy planne aangekondig het om militêre oefeninge met Suid-Korea, ʼn belangrike bondgenoot in die streek, af te skaal. Hy gee as rede sy goeie verhouding met Kim en Suid-Korea se onwilligheid om teen Iran te help. Trump het aan joernaliste by die Withuis gesê dit kos Amerika miljarde dollar om Suid-Korea te beskerm:
# Gholf: LIV Golf het bevestig dat sy Spankampioenskap vir die einde van die seisoen in Michigan gekanselleer is. Hierdie week se toernooi in Indianapolis is die laaste vir dié seisoen. Die wegbreekliga is in onsekerheid gedompel sedert die Saoedi-Arabiese Beleggingsfonds sy finansiële steun in April onttrek het. LIV Golf se uitvoerende hoof, Scott O’Neil, het onlangs ‘n ooreenkoms met ‘n nuwe naamlose ‘hoofbelegger’ bevestig om die 2027-seisoen te befonds. O’Neil sê die vroeë einde stel hulle in staat om te fokus op die streng operasionele vereistes wat nodig is vir so ‘n oorgang.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-71-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-396-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….