Nuus 16:00
BULLETIN 17 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa vra klimaat-veerkragtige SAOG-voedselstelsels
# Die prys van die basiese voedselmandjie in Suid-Afrika steek laerinkomstegroepe se inkomste verby
# En rugby: Die Bulle praat met die Kubota Spears om Malcolm Marx na Loftus te bring
# President Cyril Ramaphosa sê die versterking van landbou-waardekettings en die bou van klimaat-veerkragtige voedselstelsels moet voorkeur geniet om voedselsekerheid te verbeter en volhoubare ekonomiese groei te ondersteun. Hy het tydens die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskaps-beraad in Durban gevra vir verhoogde landbouproduksie, sterker streeks-voedselreserwes en groter ondersteuning vir klein- en opkomende boere. Ramaphosa het lande ook aangemoedig om ten volle die geleenthede te benut wat die Afrika-vryhandelsgebied bied:
# Die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala het bevestig hy ken die voormalige polisie-generaal Kgomotso Phahlane, maar het hom nooit gunste gevra of enige vergoeding aangebied nie. Hy het voor die Madlanga-kommissie getuig hy het hom ontmoet toe hy nie meer in die polisie was nie. Matlala sê ook hy het die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, een keer ontmoet. Hy weier om dit te bespreek, want dit hou verband met die hangende Medicare24-tendersaak:
# Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte het vier besendings Enalapril tien milligram herroep, wat gebruik word om hoë bloeddruk te behandel. Dit volg nadat gehalteprobleme tydens inspeksies geïdentifiseer is. SAHPRA se woordvoerder, Rodgers Baloyi, sê apteke en verskaffers is opdrag gegee om die verkoop en verspreiding van die betrokke medisyne onmiddellik te staak en dit deur die regte voorsieningsketting terug te stuur:
# Suid-Afrikaanse huishoudings ondervind ‘n verergerende bekostigbaarheids-krisis, ondanks ‘n tydperk van gedempte amptelike voedselinflasie. ‘n Peiling deur die Pietermaritzburgse Ekonomiese Geregtigheids- en Waardigheids-organisasie toon dat die koste van ‘n noodsaaklike voedselmandjie mense se inkomste aansienlik oorskry, wat talle gesinne laat sukkel om basiese voeding te verseker. Woordvoerder Mervyn Abrahams sê daar is ‘n erge gaping tussen amptelike inflasie-meting en die werklikheid op voetsoolvlak. Hy voeg by armer huishoudings kry nou te doen met hoër vervoer- en kragpryse, wat voedselsekerheid verder buite bereik plaas.
# Rugby: Die Bulle will blybaar hulle haker-moontlikhede versterk deur die Springbok-veteraan Malcolm Marx uit Japan terug te lok. Die Pretoriase span praat met Kubota Spears, by wie hy in 2021 aangesluit het en glo gretig is om sy dienste te behou. Rapport berig die 32-jarige Marx oorweeg dit sterk om huis toe te kom, en het ook bande met die Bulle se afrigter, Johan Ackermann, wat hom vroeër by die Leeus afgerig het. Hy het 135 punte vir Suid-Afrika aangeteken in 87 toetse sedert 2016.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-546-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-391-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….