Nuus 15:00
BULLETIN 17 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Peet Viljoen word borgtog geweier omdat die hof hom as ‘n vlugrisiko beskou
# Matlala ontken bande met die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu
# En rugby: Die Bulle stel nuwe truie bekend geïnspireer deur Loftus Versfeld
# Die TV-persoonlikheid en prokureur wat van die rol geskrap is, Peet Viljoen, is borgtog geweier in ‘n bedrogsaak van miljoene rand. Hy het vanoggend in die Pretoriase Handelsmisdaadhof verskyn, waar besluit is hy word as ‘n vlugrisiko beskou. Viljoen staan tereg op meer as 400 aanklagte, insluitend bedrog en korrupsie wat verband hou met die verkoop van munisipale eiendom ter waarde van ongeveer 27-miljoen-rand in 2010. Hy is op OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng in hegtenis geneem nadat hy uit Amerika gedeporteer is.
# Die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala sê hy het geen bande met die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, nie. Hy het voor die Madlanga-kommissie getuig hulle het geen byeenkomste saam bygewoon nie en hy het ook niemand versoek om namens hom met Mchunu te skakel nie. Hy verduidelik sy prokureur het wel met Mchunu se kantoor geskakel oor ‘n brief aan die Parlement. Matlala ontken ook enige betrokkenheid by Mchunu se stigting:
# ActionSA se leier, Herman Mashaba, sê Suid-Afrika moet ophou om funksies uit te kontrakteer wat die regering self kan verrig. Hy wil weet waarom munisipaliteite tussengangers betaal om mense aan te stel om vullis te verwyder, openbare geriewe skoon te maak, infrastruktuur te onderhou en veiligheid te voorsien. ActionSA se woordvoerder, Omogolo Taunyane, sê tenderpreneurs kan nie Suid-Afrika se ekonomiese beleid wees nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die bevelvoerder van Iran se Weermag, Amir Hatami, bied ‘n kontantbeloning van ongeveer 484-duisend-rand aan vir enigiemand wat ‘n Amerikaanse soldaat gevange neem of doodmaak en aan die owerhede oorhandig. Sewentien Amerikaanse militêre personeellede is dood sedert die begin van die oorlog, maar almal het buite Iran gesterf, in lande soos Jordanië en Irak. Hatami sê dapper Iranse vroue wat ‘n Amerikaanse soldaat gevange neem of doodmaak, sal dubbel die beloning ontvang. Hy herhaal ook Iran se eis dat Amerika die Midde-Ooste moet verlaat.
# Rugby: Die Bulle se nuwe truie vir dié seisoen se tuiswedstryde is geïnspireer deur Loftus Versfeld. Die ontwerp, “Alle Paaie Lei na Loftus“, vier die stadion as die span en sy ondersteuners se geestelike tuiste. Dis in skakerings van diep vlootblou tot Loftus-blou, met ‘n kaartgrafika van strate wat saamvloei by die ikoniese stadion in Pretoria. Uitvoerende hoof Edgar Rathbone sê die truie vang die trots en passie vas wat die span, ondersteuners en stad verbind. Dit het ook vogbestuur, versterkte duursaamheid, rekbare materiaal en ‘n verbeterde greep.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-588-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-402-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….