Nuus 14:00
BULLETIN 17 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Regshindernisse bedreig Suid-Afrika se poging om 299-miljoen-rand se repatriasiekoste te verhaal
# Die dodetal ná ‘n bootongeluk op die Karibameer styg tot 80
# En rugby: Die beseerde Ollie Norris is die vierde All Black-speler wat huis toe gaan
# Suid-Afrika worstel teen regshindernisse in sy poging om ongeveer 299-miljoen-rand te verhaal wat bestee is aan die repatriasie van buitelandse burgers na Malawi, Nigerië en Ethiopië. Die Departement van Binnelandse Sake sê hy het die regerings gevra om die terugbetalings te doen. ‘n Kenner van Internasionale betrekkinge, Kingsley Makhubela, sê egter Suid-Afrika kan sukkel om die geld te verhaal sonder bindende ooreenkomste wat vereis dat die lande die koste dek. Hy sê die betrokke lande het moontlik geen wetsaanspreeklikheid om te betaal indien sulke ooreenkomste nie bestaan nie.
# Die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala weier om vrae te beantwoord voor die Madlanga-kommissie wat hom moontlik kan benadeel. Dit handel veral oor die Medicare24-kontrak, wat die onderwerp is van hangende strafregtelike aanklagte. Die Polisiediens het sy onderneming gekontrakteer om gesondheids- en risikoverwante dienste te lewer, maar die tender is intussen beëindig. Matlala sê die gebruik van sy swygreg beteken nie hy is onwillig om met die kommissie saam te werk nie:
# Die polisie in Sophiatown in Gauteng ondersoek vier aanklagte van moord en een van poging tot moord ná Saterdagaand se skietery in Newclare. Polisiewoordvoerder Tintswalo Sibeko sê drie slagoffers is op die toneel dood en twee het skietwonde opgedoen. Sy sê een van die slagoffers is vanoggend in die hospitaal dood:
# Die Zimbabwiese polisie sê die dodetal ná verlede week se bootongeluk op die Karibameer het tot 80 gestyg nadat nog agt liggame gevind is. Die staatsbeheerde passasier-veerboot het omgeslaan in sterk wind. Die boot is goedgekeur vir 90 passasiers, maar was volgens berigte erg oorlaai, met tussen 120 tot 153 mense aan boord, insluitend jong kinders wat nie kaartjies gehad het nie. President Emmerson Mnangagwa het die tragedie amptelik tot ‘n ramptoestand verklaar, wat die staat in staat stel om meer humanitêre hulp en herstelhulpbronne te bekom.
# Rugby: Die All Black-stut Ollie Norris is op pad terug na Nieu-Seeland nadat hy ‘n kraakbeenbesering opgedoen het en ses weke op die kantlyn moet bly. Hy is die vierde speler wat die res van Rugby’s Greatest Rivalry-toer in Suid-Afrika gaan misloop nadat George Bell, Billy Proctor en Caleb Clarke ook beseer is. Cortez Ratima se deelname aan die eerste toets teen die Springbokke is ook in die weegskaal weens ʼn kniebesering en Noah Hotham is opgeroep as moontlike plaasvervanger.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-272-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-393-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….