Nuus 11:00
BULLETIN 17 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAKP se verkiesingsmanifes fokus op die werkersklas en armes
# tennis: Swiatek en Medvedev is deur na die Cincinnati Ope se derde ronde maar Shelton is uitgeskakel
# En die Amerikaanse aktrise Hayden Panettiere sterf op 36
# Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty sê sy verkiesingsmanifes plaas mense eerste, veral werkers en armes wat die grootste deel van die samelewing uitmaak. Dit plaas klem op betroubare openbare dienste, ordentlike werk, grond en behuising, voedselsekerheid, veiliger gemeenskappe, die stryd teen tenderkorrupsie en groter aanspreeklikheid van raadslede. Die SAKP se hoofsekretaris, Solly Mapaila, sê hulle gaan hulself aan Chris Hani se standaarde meet:
# Die adjunkminister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Thandi Moraka, het die media gevra om ‘n meer ingeligte begrip van migrasie en streeksverhoudings te help bevorder. Sy het mense wat Suid-Afrika binnekom aangemoedig om immigrasiewette en -regulasies na te kom voor die 46ste algemene vergadering van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap vandag in Durban begin. Moraka sê migrasie is ʼn wêreldwye verskynsel, want mense beweeg oor grense weens onder meer ekonomiese geleenthede en akademiese ontwikkeling:
# Die Soil of Africa-burgerlike beweging sê die onlangse uitspraak deur die Hooggeregshof in Pretoria oor die bestuur en administrasie van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente is baie belangrik. Die hof het die aanstelling van administrateur Hlengani Mathebula opgeskort en die ontbinde raad herstel. Die beweging se woordvoerder, Luzuko Sofute, sê daar mag geen viktimisering van studente of instellings wees weens die bestuurs- en leierskaps-geskille nie:
# Tennis: Iga Swiatek van Pole het haar Cincinnati-ope-titel begin verdedig met ‘n oorwinning oor die Colombiaan, Emiliana Arango, om die derde ronde te haal. Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, het die Australiër Talia Gibson geklop en die Amerikaner Coco Gauff het die Rus Liudmila Samsonova verslaan. In die mansafdeling het die Portugese kwalifiseerder Jaime Faria die Amerikaner Ben Shelton uitgeskakel in sy eerste oorwinning oor ‘n top-tien-speler. Die vierde-gekeurde Rus, Daniil Medvedev, Felix Auger-Aliassime van Kanada en die Amerikaner Taylor Fritz is ook deur na die derde ronde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-13-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-606-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-401-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-41-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse aktrise Hayden Panettiere, wat bekend is vir haar tolle in Heroes, Nashville en Scream 4, is op 36-jarige leeftyd dood. Sy het as vierjarige ʼn rol vertolk in die gewilde Amerikaanse sepie, One Life to Live. Panettiere het ook die rol van ʼn rasieleier in die wetenskapsfiksie Heroes vertolk met die gawe om haar liggaam self te kan genees, gevolg deur Nashville, waarin sy ʼn jong countrymusiek-ster gespeel het. Die omstandighede rondom haar dood is nie bekend nie. Haar pa, Skip Panettiere, beskryf haar as ʼn ongelooflike lig en natuurkrag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….