Nuus 13:00
BULLETIN 16 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu herdenk 14 jaar ná die Marikana-slagting
# Die ACDP sê drastiese optrede is nodig in die vorm van teen-bendewetgewing
# En Orkaan Lala tref Hawaii en laat 89-duisend sonder krag
# Saftu het by die families, oorlewendes, en mynwerkers asook die hele werkersklas aangesluit om vandag die 14de herdenking van die Marikana-slagting te onthou. In Augustus 2012 het die polisie op stakende mynwerkers by Lonmin se platinummyn in Marikana, Noordwes, losgebrand en 34 werkers doodgeskiet. Die werkers het betoog vir ‘n lewensvatbare loon van 12-duisend-500 rand per maand. Asive Dyani van Saftu sê veertien jaar later verdien miljoene Suid-Afrikaanse werkers steeds hongerlone:
# Die ACDP doen ‘n beroep op die regering om die stryd teen bendegeweld in gemeenskappe regoor die land dringend eerste te stel. Palesa Yates van die party sê die onlangse sinnelose moorde in Reigerpark, Gauteng, op twee jong vroue en twee polisiebeamptes is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Sy voer aan dat gewone polisie-ontplooiings nie genoeg is om misdaadsindikate te stop nie. Yates sê drastiese optrede is nodig in die vorm van teen-bendewetgewing:
# COSATU in Gauteng ondersteun die Onderwysdepartement se besluit om veiligheidspersoneel te ontplooi na 245 skole wat as hoërisiko bestempel word. Cosatu se voorsitter, Amos Monyela, sê egter die sukses van hierdie projek sal afhang van doeltreffende implementering, voldoende hulpbronne, betekenisvolle toesig en die voortgesette samewerking tussen skoolbeheerliggame, ouers, opvoeders, leerders en gemeenskappe. Hy sê skoolveiligheid moet ‘n langtermynverbintenis word:
# Orkaan Lala het Hawaii getref met sterk winde en swaar reën, wat meer as 89-duisend huishoudings sonder krag gelaat het. Die Kategorie Een-storm het tot gevaarlike omstandighede gelei, met die Nasionale Orkaansentrum wat waarsku teen lewensgevaarlike oorstromings en modderstortings. Die goewerneur van Hawaii, Josh Green, sê sommige gebiede het meer as 33-sentimeter reën ontvang. Tropiese stormwaarskuwings is in plek oor verskeie eilande, insluitend Maui, Oahu en Kauai. Omgevalle bome het die kraginfrastruktuur beskadig, terwyl groot lughawens gesluit is. Inwoners is gevra om skuiling te soek aangesien die skadelike wind voortduur.
# En laastens, rugby- en sokkernuus:
# Rugby: Nieu-Seeland se afrigter, Scott Robertson, staar vrae oor spankeuses in die gesig voor die eerste toets teen Suid-Afrika. Daar is twyfel oor Damian McKenzie se fiksheid. Robertson sal na verwagting ook Richie Mo’unga se terugkeer versigtig bestuur. Mo’unga is as beseringsvervanging ingebring en is gretig om sy merk te maak, maar die afrigtingspan sal hom waarskynlik vir eers spaar. Die All Blacks bly onoorwonne op hul Suid-Afrikaanse toer na oortuigende oorwinnings oor die Stormers, Haaie en Bulle. Hul eerste toets teen die Springbokke is op 22 Augustus op Ellispark in Johannesburg.
# En sokker: Marokko is gister tydens die Afrikabeker vir Vroue verder teleurgestel toe hulle na ‘n gelykop-uitslag met strafdoele 3-2 teen Algerië verloor het in die uitspeelwedstryd om die derde plek in Rabat. Kautar Azraf het Marokko laat voorloop voordat Lina Boussaha in die 83ste minuut vir Algerië gelyk gemaak het. Marokko het toe drie agtereenvolgende strafdoele misgeskop, wat Algerië die brons gegee het. Ten spyte van die teleurstelling het Marokko ‘n plek by volgende jaar se 32-span Wêreldbeker vir Vroue in Brasilië verseker. Kameroen, Malawi en Algerië het ook gekwalifiseer, terwyl Suid-Afrika en Ghana deur interkontinentale uitspeelwedstryde kan deurgaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….