Nuus 09:00
BULLETIN 16 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Forum for South Africa eis die onmiddellike heraanstelling van Fannie Masemola
# Solidariteit verwelkom die verlenging van AGOA
# En reddingswerkers soek na oorlewendes ná ‘n kragtige aardbewing in Indonesië
# Die Forum for South Africa eis die onmiddellike heraanstelling van die geskorste nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, hangende die afhandeling van alle regs- en tugprosesse. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê getuienis wat voor die Madlanga-kommissie gelewer is, het ernstige vrae laat ontstaan oor die optrede en motiewe van sekere individue. Hy sê die getuienis wat tot dusver aangehoor is, dui aan daar was moontlik ‘n doelbewuste poging om Masemola uit sy amp te verwyder:
# Solidariteit verwelkom die Amerikaanse Senaat se goedkeuring van ‘n twee-jaar verlenging van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, tot einde Desember 2028. Solidariteit se woordvoerder, Jaco Kleynhans, sê dit moet nog deur die Huis van Verteenwoordigers goedgekeur en daarna deur die Amerikaanse president onderteken word, maar geen onmiddellike struikelblokke word voorsien nie. Hy sê egter AGOA laat die Withuis toe om die lys van begunstigde lande jaarliks te hersien en president Donald Trump kan die huidige lys van 32 deelnemende lande voor volgende jaar wysig.
# Die African Unite Borders Bus Trucks Association doen ‘n beroep op Afrika-leiers om in te gryp na die Karibameer-veerboottragedie in Zimbabwe. Vier-en-veertig mense is dood toe ‘n oorlaaide veerboot Dinsdag naby Long Island omgeslaan het, met baie mense wat steeds vermis word. Die voorsitter van die vereniging, Mukhwathi Phumudzo, sê dit was ‘n ou boot en Afrika-leiers moet belê in die bou van nuwe infrastruktuur:
# Reddingspanne soek na oorlewendes nadat ‘n kragtige aardbewing van 7,7 Indonesië se eiland Flores getref het, met minstens 51 mense dood. Die aardbewing het vroeg gisteroggend voorgekom en is gevolg deur tientalle naskokke. Honderde geboue is erg beskadig, met Manggarai wat die ergste deurgeloop het. Indonesië se rampagentskap sê hulp word na rampgeteisterde gemeenskappe gestuur, met meer as tien-duisend noodpakkette wat reeds afgelewer is. ‘n Tweede aardbewing van 6,9 het aan die ander kant van Indonesië voorgekom. Die land is geneig tot aardbewings en vulkaniese aktiwiteit, en lê langs die raakpunt van drie groot tektoniese plate.
# En sportnuus:
# Tennis: Wêreld-nommer-een Jannik Sinner het skokgolfterapie op sy regterknie voltooi terwyl hy voorberei vir ‘n terugkeer na tennis. Die vyfmalige Grand Slam-kampioen het nog nie weer gespeel sedert hy op 12 Julie sy Wimbledon-titel suksesvol teen Alexander Zverev verdedig het nie. Sinner het daarna die Kanadese Ope misgeloop en hom aan die Cincinnati Ope onttrek, en as rede aangevoer dat sy knie hom steeds pla. Die Italianer fokus nou op sy herstel en hoop om fiks te wees vir die Amerikaanse Ope. Sy vordering sal noukeurig dopgehou word voor die laaste Grand Slam van die jaar.
# En gholf: Austin Bautista van Australië het die FNB Eswatini-uitdaagtoernooi by die Ezulweni Gholf- en Buiteklub met twee houe gewen. Bautista het ‘n laaste rondte van 67 aangeteken en op 17 onder baansyfer geëindig om sy tweede Sonskyntoer-titel te verseker. Hy het die laaste rondte twee houe agter die voorloper begin, maar na ses voëltjies oor 11 putjies voorgeloop. Die Suid-Afrikaners Herman Loubser en Dylan Mostert, en die Fransman Benjamin Kedocim, het die tweede plek gedeel op 15 onder. Bautista is nou tweede op die Sonskyntoer Orde van Verdienste en sal volgende week sy Sunbet-uitdaagtitel verdedig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….