Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee SA soldate is gewond tydens ‘n aanval in die DRK
# Die minister van Gesondheid bevestig sy verbintenis om gesondheidsberoepslui in diens te neem
# En, sokker: Woedende Hongkongse ondersteuners eis hulle geld terug na Messi nie kon speel nie
# Twee Suid-Afrikaanse soldate is in ‘n bestendige toestand nadat hulle gewond is toe hul helikopter in die Demokratiese Republiek van die Kongo aangeval is. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sê die Oryx is getref op pad van Rwindi na Goma in die ooste. Die mediese praktisyn op die vlug is in die bors getref en die vlieënier het ‘n skietwond aan die vinger opgedoen. Die res van die mense aan boord was ongedeerd, en die helikopter het veilig in Goma geland. Die soldate is deel van die Verenigde Nasies se vredesending in die DRK.
# Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, sê die regering is daartoe verbind om mediese beroepslui in diens te neem – veral dokters wat hulle gemeenskapsdiens voltooi het. Pogings het begin om vakante betrekkings te befonds in gemeenskappe wat nie na behore bedien word nie, met 564 poste wat sedert Oktober gevul is en ander wat geadverteer moet word. Die minister het op ‘n nuuskonferensie gesê die indiensneming van mediese beroepslui bly styg ondanks gebrekkige befondsing. Phaahla vra ‘n hersiening van die bestaande indiensnemingsbepalings om befondsing te verbeter:
# ‘n Opname deur die Instituut vir ‘n inklusiewe samelewing beklemtoon ‘n kommerwekkende neiging van professionele persone wat die land verlaat weens beperkte geleenthede. Die uitvoerende hoof, Daryl Swanepoel, het opgemerk ‘n toenemende aantal jong mense oorweeg emigrasie te midde van ekonomiese uitdagings. Swanepoel het met eNCA gepraat en beklemtoon nege-persent van die respondente het die begeerte uitgespreek om die land te verlaat. Hy beklemtoon hoe dringend dit is om ekonomiese kwessies aan te pak as ‘n oplossing om talent te behou en die emigrasie-neiging in die kiem te smoor:
# Sokker: Inter Miami se bestuurder Gerardo Martino, sê daar was te veel op die spel om ‘n beseerde Lionel Messi te laat speel in gister se voor-seisoense vriendskaplike wedstryd teen ‘n Hongkongse Elftal. Woedende ondersteuners het hulle uitgejou nadat dit duidelik geword het die kaptein van 2022 se Wêreldbeker-kampioenspan, Argentinië, gaan nie opdraf nie en het ‘n terugbetaling geëis. Die Hongkongse regering sê Messi was gekontrakteer om minstens 45 minute te speel, maar Martino sê hoewel hulle begryp die toeskouers is teleurgesteld, het die mediese span besluit om nie te waag met Messi nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-321-dollar-35-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-16-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-40-sent per vat.
# Ten slotte:: Die Grammy-bekroonde Suid-Afrikaanse sangeres, Tyla, sê haar pa het reeds besluit hy sal haar prys in sy kamer hou. Die 22-jarige was oorweldig toe sy as wenner in die kategorie vir Beste Afrika-musiekuitvoering aangewys is vir haar reuse treffer, Water, en het die jongste Suid-Afrikaner geword om die gesogte toekenning te wen. Tyla, afkomstig van Edenvale in Gauteng, het ‘n dramatiese liggroen Versace uitgeknipte gaasrok gedra. Sy het die gehoor se harte gewen toe sy op die ingewing van die oomblik ‘n dansnommertjie uitgevoer het terwyl sy die Grammy omhoog hou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….