Nuus 11:00
BULLETIN 15 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Manamela raadpleeg regskenners ná die hofuitspraak oor NSFAS se administrateur
# Die Suid-Koreaanse president, Lee Jae Myung sê meganismes is nodig om spanning met Noord-Korea te bestuur
# En rugby: Die All Blacks-vleuel Caleb Clarke is nie beskikbaar vir die RGR-reeks nie
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, oorweeg die uitspraak van die Pretoriase Hooggeregshof dringend en het regsadvies ingewin oor die uitwerking daarvan, die beskikbare regsmiddels en die toepaslike stappe wat gedoen moet word. Die departement se woordvoerder, Matshepo Seedat, sê dit volg nadat die Hooggeregshof gelas het die administrateur van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Hlengani Mathebula, se aanstelling moet opgeskort word en die ontbinde NSFAS-raad moet weer ingestel word.
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Openbare Infrastruktuur sê die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, se besluit om werwing vir die Uitgebreide Openbarewerkeprogram na die SA Youth Mobi-platform te verskuif, verteenwoordig ‘n belangrike verandering in die manier hoe die regering geleenthede vir werklose Suid-Afrikaners moet skep. Die komitee se voorsitter, Rikus Badenhorst, sê die hervorming is ‘n keerpunt. Hy sê daar is reeds te lank bewerings oor politieke inmenging, begunstiging en misbruik met die toekenning van geleenthede:
# Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, sê Suid-Afrika se strewe na volhoubare, inklusiewe en veerkragtige menslike nedersettings het ‘n reusehupstoot gekry met die bekendstelling van ‘n toegewyde UN-Habitat Suid-Afrika-landkantoor. Simelane en UN-Habitat se direkteur, Anacláudia Rossbach, het die kantoor amptelik in Pretoria geopen, wat ‘n nuwe hoofstuk inlui in die langdurige vennootskap tussen Suid-Afrika en die Verenigde Nasies se agentskap. Die minister beskryf die stigting van die landkantoor as ‘n belangrike stap om menslike nedersettings te transformeer, informele nedersettings op te gradeer en volhoubare verstedeliking te bevorder.
# Die DA in die Wes-Kaap doen ‘n beroep op die leier van die Patriotic Alliance, Gayton McKenzie, om saam te werk met ‘n voortgesette ondersoek na sowat drie-miljoen-rand wat vir Sentraal-Karoo-projekte ingesamel is tydens sy termyn as burgemeester. Dave Bryant van die party sê die provinsiale regering probeer steeds om vas te stel of die geld in die munisipaliteit se rekeninge inbetaal is en vir die beoogde doel aangewend is:
# Die Suid-Koreaanse president, Lee Jae Myung, sê gesprekke moet gevoer word met Noord-Korea om die Koreaanse Oorlog amptelik te beëindig en maniere te bespreek om die Noorde se kernprogram te stop. Lee het ter viering van die 81ste Bevrydingsdag gevra vir ‘n einde aan die vyandigheid en ‘n permanente vredesregime. Die twee Koreas is sedert 1953 tegnies steeds in ‘n oorlog gewikkel, toe konflik met ‘n skietstilstand eerder as ‘n vredesverdrag beëindig is. Lee vra ook ‘n omvattende veiligheidstelsel om spanning te bestuur en konflik te voorkom, ondanks Noord-Korea se gebrek aan reaksie op vorige pogings om dialoog te begin.
# En rugby: Die All Blacks-vleuel Caleb Clarke is weens ‘n skouerbesering nie beskikbaar vir Nieu-Seeland se Rugby’s Greatest Rivalry-reeks teen die Springbokke nie. Clarke is beseer tydens Nieu-Seeland se 54-0 oorwinning oor die Haaie in Durban en gaan huis toe vir ‘n operasie. Afrigter Dave Rennie sê geen plaasvervanger sal opgeroep word nie, tensy daar verdere beserings is. Clarke sluit op die krukkelys aan by Billy Proctor en die haker George Bell. Die eerste toets in die reeks van vier teen die huidige wêreldkampioene word 22 Augustus op Ellispark in Johannesburg gespeel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….