Nuus 18:00
BULLETIN 14 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fadiel Adams sê hy is gereed vir sy verhoor
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê Suid-Afrika se onderwysers word nie te veel betaal nie
# En, Rusland verwerp die idee van ‘n Swartsee-skietstilstand
# Die geskorste National Coloured Congress-LP Fadiel Adams sê hy is gereed om verhoor te word nadat hy vandag in die Pinetown-landdroshof verskyn het. Die staat sê sy ondersoek is voltooi en het versoek dat die saak na die streekhof verskuif word vir verhoor in September. Adams word daarvan beskuldig dat hy twee gevangenes besoek het terwyl hy na bewering voorgegee het hy was op amptelike parlementêre sake. Hy beplan ook om regstappe te doen oor sy inhegtenisneming:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor opmerkings van die ekonoom Dawie Roodt dat onderwysers se salarisse halveer moet word sodat die regering meer onderwysers in diens kan neem. Die vakbond stem saam Suid-Afrika benodig dringend meer onderwysers om oorvol klaskamers uit te skakel en onderrig en leerwerk te verbeter. Die woordvoerder, Claude Naicker, verwerp egter die voorstel salarisse van bestaande onderwysers moet gesny word om dit te vermag:
# Cosatu in Gauteng vra die Gautengse Departement van Gesondheid om te verseker die nuwe mobiele klinieke word behoorlik beman, toegerus, onderhou en ontplooi in gemeenskappe waar dit die nodigste is. Cosatu se voorsitter, Amos Monyela, sê gehalte-gesondheidsorg is ‘n noodsaaklike openbare diens en toegang tot gesondheidsorg is veral belangrik in werkersklas-gemeenskappe, omdat lang afstande, vervoerkoste en lang toue soms verhoed dat werkers betyds mediese behandeling ontvang:
# Rusland verwerp oproepe vir ‘n skietstaking met Oekraïne in die Swartsee. Die Ministerie van Buitelandse Sake sê daar is geen ruimte vir halfhartige maatreëls wat Kiëf ‘n tydelike blaaskans sal gee nie. Dit volg na Turkye se voorstel vir ‘n moratorium op militêre operasies in die Swartsee. Rusland sê hy het nog geen formele voorstel ontvang nie. Beide Rusland en Oekraïne het aanvalle in die streek verskerp, insluitend teen kommersiële skeepsvaart, wat kommer oor wêreldwye graanvoorrade laat toeneem. Moskou het ook die moontlikheid uitgesluit om die vorige Swartsee-graanooreenkoms te laat herleef.
# Rugby: Japan se Australiese afrigter, Eddie Jones, glo sy span staan sy beste kans ooit om die Wallabies te klop wanneer hulle môre in Townsville sake uitspook. Japan het ál agt toetse teen Australië in die verlede verloor, maar hulle selfvertroue is aan die toeneem na hulle hul laaste twee wedstryde net-net verlooor het, insluitend verlede naweek se telling van 35-32 in Osaka. Die Wallabies rus van hul beste spelers, en Jones glo Japan kan môre geskiedenis maak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-601-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-391-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 89-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….