Nuus 13:00
BULLETIN 14 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Transnet vra 35-miljard-rand vir infrastruktuuropgraderings
# Airlink en Qatar Airways brei hul kode-delings-ooreenkoms uit
# En Bavuma, Marx en Simbine word benoem as Sport-ster van die Jaar
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het aangekondig dat Transnet 35-miljard-rand van die Nasionale Tesourie gaan aanvra vir infrastruktuur-opgraderings tot 2030. Sy het aan Bloomberg gesê die fondse is noodsaaklik om hawe-doeltreffendheid te verbeter en bedrywighede te bestendig. Creecy sê die kapitaal sal hoofsaaklik vir nuwe spoorwegroetes en gevorderde hawekoördinering-sagteware aangewend word. Dié versoek is benewens die 13-miljard-rand wat Transnet reeds van die Begrotingsgerief vir Infrastruktuur ontvang het, insluitend 11,2-miljard-rand om yster- en steenkoolroetes te herstel en die doeltreffendheid van die Durbanse houerterminaal te verhoog.
# Die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, verstaan nie waarom hy aangekeer is en nie bloot versoek is om ‘n waarskuwingsverklaring af te lê nie. Hy staan in die Landdroshof in Pinetown, KwaZulu-Natal, tereg op aanklagte van bedrog en regsverydeling. Die saak is tot 11 September uitgestel, terwyl hy volgende week voor die Madlanga-kommissie sal getuig. Adams beskuldig die Parlement van betrokkenheid by geskille oor sy parlementêre skootrekenaar:
# Die Suid-Afrikaanse lugredery Airlink en Qatar Airways gaan hul kode-delingsvennootskap vanaf 31 Augustus uitbrei, met Airlink wat sy 4Z-kode by Katarse vlugte voeg. Die ooreenkoms sal Airlink toelaat om Doha as sy eerste langafstand-bestemming te bemark, met kodedeelvlugte vanaf Johannesburg, Kaapstad en Durban. Die vennootskap sal later na meer bestemmings binne Qatar Airways se wêreldwye netwerk uitgebrei word. Die lugredery het in 2024 ‘n belang van 25-persent in Airlink bekom.
# Israel se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Danny Danon, verwerp die standpunt dat nedersettings ‘n struikelblok vir vrede is. Die VN se Veiligheidsraad is bekommerd oor toenemende setlaarsgeweld, die sloop van geboue en die ontworteling van Palestynse burgerlikes aan die besette Wesoewer. Alle Israelse nedersettings word volgens internasionale reg as onwettig beskou. Danon sê die nedersettings sal aanhou voortbestaan en uitbrei aangesien Israel Bybelse, geskiedkundige en wettige regte op die grond het:
Nou sportnuus:
# Die Protea-krieketkaptein, Temba Bavuma, die Springbok-haker Malcolm Marx en die Olimpiese silwermedalje-naelloper, Akani Simbine, is benoem as Sport-ster van die Jaar vir die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings. Laura Wolvaardt, Kira Bester en Prudence Sekgodiso is benoem as Sportvrou, en Christiaan Maas, Pieter Coetzee en Kevin Lerena as Sportman. Die Protea-mans-toets-krieketspan, die vier-maal-400-meter mans-aflosspan, en die Eisenhower-trofee-gholfspan ding mee vir die titel van Span van die Jaar. Die seremonie vind volgende Sondag in Noordwes plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-817-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-351-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….