Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Die Protea-krieketkaptein, Temba Bavuma, die Springbok-haker Malcolm Marx en die Olimpiese silwermedalje-naelloper, Akani Simbine, is benoem as Sport-ster van die Jaar vir die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings. Laura Wolvaardt, Kira Bester en Prudence Sekgodiso is benoem as Sportvrou, en Christiaan Maas, Pieter Coetzee en Kevin Lerena as Sportman. Die Protea-mans-toets-krieketspan, die vier-maal-400-meter mans-aflosspan, en die Eisenhower-trofee-gholfspan ding mee vir die titel van Span van die Jaar. Die seremonie vind volgende Sondag in Noordwes plaas.
# Rugby: Die All Blacks se afrigter, Dave Rennie, sê spelers kan steeds die groep haal vir die eerste toets teen die Springbokke, afhangende van hulle vertoning teen die Bulle. Hy het ‘n sterk groep aangewys vir môre se kragmeting op Loftus, maar sê dit verskil aansienlik van die een vir volgende Saterdag se toets op Ellispark. Rennie erken hy het ‘n dilemma met posisies soos skrumskakel, slot, losvoorspeler en vleuel:
Nog rugby: Slegs drie groeprondes is oor voor die Curriebeker-halfeindstryde. Griekwas is tans boaan die punteleer na drie oorwinnings en ‘n nederlaag, gevolg deur die Cheetahs, die Leeus en die Pumas. Die Boland Kavaliers is vyfde, gevolg deur die Stormers-23, die Haaie-vyftiental en die Blou Bulle. In vandag se wedstryde gaan die Leeus en die Boland in Johannesburg sake uitspook en die Griekwas verwelkom die Haaie in Kimberley. Môre is die Pumas gasheer vir die Stormers in Mbombela en Sondag pak die Bulle die Cheetahs op Loftus.
# Sokker: Suid-Afrika het Nigerië 2-1 geklop in hul Afrikabeker vir Vroue-uitspeelstryd in Marokko en kwalifiseer nou vir FIFA se uitspeeltoernooi vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Brasilië. Thembi Kgatlana en Refiloe Jane se doele het Banyana Banyana se oorwinning beklink. Die kwalifiseringsproses se volgende fase vind in November plaas. Dit bestaan uit twee spanne uit Afrika, naamlik Suid-Afrika en Ghana, twee uit Asië en een elk uit Oseanië en Suid-Amerika. Die twee topspanne dring deur na die laaste uitspeelronde in Maart.
En nog sokkernuus: Ierland het ook sy steun onttrek vir nog ‘n termyn vir FIFA se president, Gianni Infantino. Die beheerliggaam het ook sy steun bevestig aan Europese, Amerikaanse en Asiatiese liggame wat Infantino daarvan beskuldig dat hy FIFA-lede mislei het. Dit volg op sy mislukte plan om ‘n belang in FIFA se kommersiële bedrywighede aan ‘n privaat beleggingsmaatskappy te verkoop. Wallis en Engeland het verlede week hul steun onttrek. Ierland sê die onlangse gebeure laat groot kommer ontstaan oor bestuur, deursigtigheid en die gebrek aan betekenisvolle raadpleging deur FIFA.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….